News

Ma van outistiese tweeling deel haar verhaal

Marietha Gericke het haar pad met 'n outistiese tweeling met die HERAUT gedeel as deel van Outisme-bewusmakingsmaand.

Met die oog op Outisme-bewusmakingsmaand, wat gedurende April plaasvind, het die HERAUT met ’n enkelma van drie, waarvan twee ’n outistiese tweeling is, gaan gesels.

Marietha Gericke se tweeling, Rudo en Albé, wie in September sewe jaar oud word, is op die ouderdom van drie jaar en vyf maande met outisme gediagnoseer.

“Ek dink enige ma weet vinnig as iets nie volgens die boek reg is nie,” het Gericke vertel.

“Sekere dinge is maar net ’n ma-instink.”

Gericke meen dat die tweeling nie hul mylpale bereik het soos hul moes nie.

“Die pediaters en dokters was van mening dat dit as gevolg van die tweeling se vroeë geboorte op 32 weke was. Maar nog steeds, hulle het nie begin kruip of loop nie en ook nie begin praat nie. Deur die hele tyd was daar iets wat geknaag het, want ek het besef dat iets fout moes wees.”

Gericke meen dat hoe meer sy met die pediater gesels het, hoe meer het dié haar probeer gerusstel dat die kinders sekere mylpale sou bereik.

Op die ouderdom van ongeveer twee en ’n half het die tweeling nog steeds nie gepraat het nie en kon ook nie loop nie.

“Teen die tyd het hulle so bietjie begin kruip, maar so op een boud, so dit was ook nie normaal nie,” het sy gesê.
Gericke het vertel dat sy een middag op Facebook ’n video gesien het oor die 10 vroeë tekens van outisme en dat haar tweeling ten minste ses van die tekens getoon het.

“Dit het natuurlik flikkerligte laat afgaan,” het Gericke gesê.

“Alhoewel ons nie op daardie stadium op ’n medies was nie, het ons besluit om die bal aan die rol te kry om die tweeling te laat diagnoseer.”

Volgens Gericke was die vroegste wat die staat hulle kon help om en by die tweeling se vierde verjaarsdag.

“Ons het die konsultasie toe uit die outismefonds betaal van die skool waarvoor ek op daardie stadium gewerk het, want die staat kon my eers na ses maande help met ’n afspraak,” het sy verduidelik.

Die tweeling is toe uiteindelik gediagnoseer.

“Ek was gelukkig dat die psigiater wie hulle gediagnoseer het ook verbonde was aan die staat en ons op so manier die medikasie deur die staat kon kry,” het sy gesê.

Rudo en Albé Gericke is op drie jaar en vyf maande gediagnoseer met outisme.

“Toe die diagnose bevestig is, het dit tog gevoel asof my hele wêreld uitmekaar val. Al die drome wat jy het vir jou kinders val net weg. Jou wêreld lyk net skielik donker.”

Gericke het vertel dat sy op die stadium met die tweeling se huidige skoolhoof, Jolanie Roos, van die Heidelberg Autism Centre gaan praat het om te kyk hoe reageer die kinders daar en om te sien wat hulle doen.

“Toe ek daar weg is, het ek vir so twee of drie dae net my foon afgesit, want dit was net te veel,” het Gericke gesê.

“Dit was moeilik om te besef dat dit wat vir ander normaal is, gaan nooit my normaal wees nie. Party dae is beter as ander. Ek het ’n ondersteuningstelsel van familie en vriende, maar dit hou op die oomblik wat jy alleen in jou bed klim. Mens het baie wroeging binne in jouself van wat jy anders kon doen, of ek dalk iets verkeerd gedoen het. Jy loop met vreeslike skuldgevoelens en weet nie noodwendig altyd wat om daarmee te maak nie, so dit is redelik alleen in daardie opsig.”

Gericke meen dat alhoewel daar nog nie ’n geneesmiddel beskikbaar is vir outisme nie, is dit wel beheerbaar.

“Die regte ingryping en die behandeling laat die tweeling ongelooflik ontwikkel,” het sy gesê.

“Hoe vroeër jy dit agterkom en hoe vroeër ’n professionele diagnose gemaak kan word, hoe beter. My boodskap vir ander ouers in my posisie is, byt vas.

Dis nie elke dag maklik nie en niemand loop in jou skoene nie, maar die liefde en satisfaksie wat jy terugkry wanneer net iets klein gebeur wat ’n mylpaal is en normaal is vir ander ouers met normale kinders kan jy glad nie beskryf nie. As ek moet kies, sal ek nie my kinders enigsins verander van wie en wat hulle is nie. Ek kan nie vir hulle liewer wees of trotser wees as wat ek reeds is nie.

“Stap die pad saam met die Here. Jy kan nie sulke spesiale hemelkinders hê en nie in God glo nie. Ja, jy word soms kwaad en vra hoekom, veral aan die begin, maar Hy dra jou en jou kinders. Hy loop die pad saam met jou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button