Lede van die Rensburg VLU het op 12 April hul maandelikse vergadering gehou.
Die vroue het tydens die vergadering talle onderwerpe, waaronder fotografie en die tak se skrywer van jaar Jaco Jacobs, bespreek.
Conrad Hechter het vir die vroue ’n aanbieding gedoen oor selfoonfotografie.
“Mens neem foto’s om spontane oomblikke vir ewig vas te vang,” het Hechter gesê.
Hechter het verder vir die vroue verskeie wenke gegee oor die verskillende vorme van fotografie op ’n selfoon.
Frik van Niekerk, voorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak, en Charmanay de Klerk het ook tydens die vergadering die tak besoek.
“Ons het ’n ruk gelede wol aan die tak geskenk,” het Van Niekerk vertel.
“Hulle doen so baie vir die gemeenskap. Die ooreenkoms was dat ons die wol skenk en dat hulle dit dan brei en die instansie kies waarvoor dit geskenk word.”
Trudie Potgieter, sekretaris van die tak, het vertel dat hulle die gebreide ponchos aan die onkologie-afdeling in Pretoria vir die kinders gaan skenk.
Die tak se volgende vergadering sal op 17 Mei gehou word.