Leer ons mense ken: Bouwe Wiersma

Bouwe Wiersma kan gesien word as Heidelberg se eie historikus.

Bouwe Wiersma (52) kan gesien word as Heidelberg se eie historikus wat by die Heidelberg Heritage Museum werk. Hy is getroud vir 25 jaar met Cornel getroud en hulle het drie kinders, Bouwe, Wian en Anke. Hulle woon in Heidelberg sedert 1994.

Waar het jy voorheen gewoon?

Ek is ’n gebore Pietersburger.

Waar het jy skool gegaan en studeer?

Ek het aan Hoërskool Pietersburg matrikuleer en daarna het ek studeer by Pukke en Unisa.

Hoe sal jy jou loopbaan opsom?

Wel, my regte werk en waarvoor ek gekwalifiseerd is, is as ’n prokureur, aktevervaardiger en eiendomswaardeerder. Ek som myself op as ’n entrepreneur.

Wat het jou besluit om ’n geskiedkundige te word?

Geskiedenis het my gekies. Van ’n onderskeiding op skool tot ’n belangstelling om nog meer te weet.

Hoe het jy besluit om dit jou loopbaan te maak?

Om die lewe beter te verstaan as jy weet waar jy vandaan kom. Ons staan op skouers van reuse uit ons verlede. Ek sien alles as kennis is mag.

Het jy enige stokperdjies buite jou werk?

In terme van stokperdjies is ek ’n amateur stekkekyker. Ek hou daarvan om die sterre, maan en son dop te hou.

Waaroor is jy passievol?

Om kennis te deel en die groter prentjie beter te begryp.

Watter soort musiek hou jy die meeste van?

My musiek keuse wissel maar. Ek glo dit is musiek wat die bure nie te veel ontstel nie. Luister van Bon Jovi met Living on a Prayer tot Kylie Minogue se Locomotion. So enige iets wat lekker, rustig en sag op my ore val.

Waar hou jy graag vakansie?

As jy hou van wat jy doen is dit ’n goeie toevlug. Ek verkies eerder die bos in plaas van die see. Ek is glo soos ’n hedendaagse Tarzan.

Wat is jou gunsteling sê-ding?

“Bliksemento” en dan vertrou ek dalk te veel op ’n vorige minister van polisie met “Vlok dit!”

As jy een ding kon verander, wat sou dit wees?

Ons almal moet die groter prentjie sien. Soos Jan Smuts gefilosofeer het: “The whole is bigger than the sum of it’s parts.”

Glo jy daar is ’n rooskleurige toekoms vir die jeug in Suid Afrika?

Ons jeug is die Benjamin Generasie. Die lewe is nie maklik nie. Die jeug kom in die wêreld in as BEN-ONI. Leer uit die verlede en bou ’n sterk toekoms vir jouself.

Wat kan jy nog vir ons sê oor Heidelberg en wat jy glo almal hiernatoe lok om die museum te kom besoek?

Heidelberg se naam gaan hom vooruit. Gooi die lyne en trek groottes hier uit. Oom Paul lok die Indiërs met Ghandi, Engelse Ponde met Churchill, Stevenson Hamilton vir die natuurliefhebbers, Olimpiese sportsterre. Daar is so baie. Dit is soos Heidelberg is – vol van die verlede, maar met ’n toekoms wat net beter kan word is daar soveel meer wat Heidelberg kan bied.

Exit mobile version