Local newsNews

Nigeldam watermonster resultate bekend

Verskeie watermonsters is volgens die verslag deur die stad se Departement van Water en Sanitasie op strategiese plekke rondom die dam geneem.

’n Verslag rakende die Nigeldam, wat onlangs gesluit is vir die publiek weens ’n groot aantal vis wat gevrek het, is onlangs bekend gemaak.

Die verslag volg nadat ondersoek deur die Stad van Ekurhuleni ingestel is om die oorsaak van die voorval vas te stel.

“Die verslag is saamgestel deur die Departement van Omgewingshulpbron en Afvalbestuur,” het DA raadslid Wollaston Labuschagne verduidelik.

“MMC André du Plessis het die verslag bekend gemaak.”

Verskeie watermonsters is volgens die verslag deur die stad se Departement van Water en Sanitasie op strategiese plekke rondom die dam geneem.

“Watermonsters is op 12 Maart stroomop van die dam geneem, asook in die dam self en by die damwal,” het Labuschagne gesê.

“Verdere watermonsters is op 14 Maart geneem by die stormwaterpyp wat vanaf die industriële gebied in die dam in uitlaat.”

Daar is ook watermonsters geneem by verdagte industrieë, maar die resultate hier het negatief teruggekom.

“Kloortoetse wat ook by die dam uitgevoer is, het volgens die verslag op die teenwoordigheid daarvan in die dam aangedui,” het Labuschagne gesê.

“Volgens die verslag kan dit dui op ’n moontlike gebarste pyp naby die dam wat in ’n stormwaterpyp inloop.

“Voorlopige ontleding van die watermonsters het ook geen spore van organiese besoedelingstowwe, suur myndreinering of rioolafvoer aangedui nie.”

Die Departement van Water en Sanitasie het ook aangedui dat daar geen moontlike bron van besoedeling by al die monsterpunte opgetel is nie.

“Dit kan moontlik daarop dui dat onwettige storting in die dam die besoedeling kon veroorsaak en dat die besoedeling verdampend van aard is,” het Labuschagne gesê.

Volgens die verslag is ’n gesamentlike ondersoek deur verskeie departemente saamgestel om die moontlike oorsaak van besoedeling te identifiseer.

Die Nasionale Departement vir Water en Sanitasie het ook op 16 Maart die dam besoek en watermonsters geneem.

Die nasionale departement sal verdere ondersoek instel.

Related Articles

Back to top button