Slaggatprojek begin spoed kry

AfriForum Heidelberg het weereens ’n hand uitgereik na alle besighede in die omgewing om deel te wees van die projek om Heidelberg te omskep in ’n dorp om op trots te wees.

Van die oomblik dat AfriForum ’n memorandum aan Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) in Januarie oorhandig het, is die wiele aan die rol gesit om Heidelberg weer ’n skoon, netjiese dorp te maak.

Dr Willem Sprong, die AfriForum Heidelberg voorsitter, het onlangs die gemeenskap uitgenooi na ’n gemeenskapsvergadering waar die planne vir die projek bespreek is en hoe die gemeenskap betrokke kan raak.

Sedert die vergadering is ’n sleepwa gebou om die slaggatprobleem aan te spreek. Op 18 Maart is ook opleiding aan sekere gemeenskapslede gegee waarin hulle touwys gemaak was in die herstel van die slaggate.

Sekere besighede het ook reeds met donasies na vore getree, wat help die proses te vergemaklik.

“Hoe meer besighede betrokke raak, hoe makliker en vinniger kan ons die euwel van slaggate aanspreek,” het Sprong gesê.

“Met die projek wat afgeskop het, skep ons ook werksgeleenthede.”

As daar enige besighede is wat betrokke wil raak, kan ’n e-pos gestuur word na heidelberg@afriforumtak.co.za

Exit mobile version