Local newsNews

Kunstenaar se beelde is mooiste ‘asblikke’

Veronika Olivier se eerste solo-kunsuitstalling sal vanaf 10 April tot einde Mei in Potchefstroom gehou word.

HEIDELBERG – Veronika Olivier, ’n multi-disiplinêre kunstenaar van Heidelberg, se werke word van 10 April tot 31 Mei tydens haar eerste solo-kunsuitstalling te Potchefstroom uitgestal.

Die Hoofmuseum Gallery (Potchefstroom Museum) verwelkom besoekers na die fantasiewêreld van eksentrieke en realistiese tekstiel kreature wat lyk of dit enige oomblik lewendig gaan word.

Veronica bring ’n unieke styl van “harde” tekstielbeelde na die uitstalling. Die beelde is hoofsaaklik gemaak van herwinde materiaal, hout, draad, papier en plastiek wat versteek is in elke ledemaat wat gemaak word voordat die kunstenaar begin met haar unieke proses van tekstiel beeldhouwerk.

Die uitstalling sal fokus rondom die “Oh Whooters” (uile), “Oh Hares” (hase) en “Quack-A-Lots” (eende), met ’n verskeidenheid ander diere ook te sien.

Olivier het vertel dat sy nog altyd ’n voorliefde vir tekstielmateriaal gehad het.

Op die ouderdom van vyf het haar ouma haar geleer stik op ’n handmasjien en op skool was beeldhouwerk haar gunsteling kunsvorm. Dit is vir haar wonderlik om die twee voorliefdes te kan kombineer om meesterlike kunswerke te maak.

“Wanneer ek werk, is daar ’n oomblik waar ek die karakter in elke dier raaksien,” het Olivier vertel.

“Dit is dan ook wanneer ek die storie rondom hul bestaan vorm en ’n naam uitdink.

“Soms praat ek met hulle en soms ‘praat’ hulle terug.

“Ek glo dat elke beeld wat ek maak vir iemand spesifiek bedoel is.

“Of die beeld ’n week of ’n jaar in my ateljee staan, iewers kom daar altyd ’n tyd wanneer ek hartseer moet afskeid neem.

“Die diere hou my geselskap terwyl ek werk.

“Meeste van my beelde is gemaak van herwinde materiaal, nie net as ’n etiese standpunt nie, maar ook omdat dit elke stuk uniek maak. Meeste materiaal soos plastiek en foelie neem jare om te disintegreer, en as ek dit binne my beelde gebruik doen ek my deel vir herwinning.

“Ek sien my beelde as die wêreld se mooiste ‘asblikke’.”

Olivier meen haar idees word gebore uit herinneringe, ondervindings en kreatiewe inspirasie. Sy werk met verskillende mediums in verskeie style, onder andere skilder, beeldhou, fotografie en die vorm van ‘assemblage’ kuns.

Sy het gesê dat niks wat sy doen vooraf beplan word nie. Sy werk intuïtief en gee haar verbeelding vrye teuels.

“Ek leef my beste kreatiewe lewe ooit,” het sy gesê.

Olivier se kuns word wêreldwyd verkoop, met haar grootste kliëntebasis in Amerika.

In 2019 het sy saam met ’n groep Suid-Afrikaanse kunstenaars die geleentheid gehad om haar beelde uit te stal in Melbourne, Australië.

Olivier se werke is ook al in Amerikaanse en Suid-Afrikaanse tydskrifte gepubliseer en was ’n gas op verskeie televisie programme. In 2019 was sy ook ’n finalis in die kykNET realiteitsreeks Kunsvlyt.

Olivier is ’n ambassadeur vir Dala Art, ’n plaaslike vervaardiger van kunsprodukte, en doen ook ’n maandelikse bydra vir The South African Artist Magazine.

Related Articles

Back to top button