Dooie visse volop in dam

Wollaston Labuschagne, DA raadslid vir Wyk 88, het op sosiale media aangedui dat die dam tot verdere kennisgewing gesluit sal wees.

Die groot aantal vis wat die afgelope paar dae in die Nigeldam gevrek het, is rede tot groot kommer.

Inwoners wat gereeld van die dam gebruik maak om vis te vang, het die dooie visse en die stink reuk oor die naweek (12 Maart) opgelet en aangemeld.

Die dam is vir besoekers gesluit weens die groot aantal dooie visse wat in die dam dryf.

“Dit is vir ons baie hartseer,” het Quinten Joubert, ’n gereelde visvanger by die dam, gesê. “Van ons wil saamspan om die talle dooie visse uit die dam uit te skep, maar dit gaan groot werk wees.”

Jackie Stingling saam met Quinten en Coenraad Joubert vang gereeld by die dam vis. Hulle is erg bekommerd oor die huidige stand van sake.

Dominic Magalhaes van die Damduikers hengelklub het gesê: “Dit is vir ons as vissermanne ’n groot kommer dat die visse so vrek.”

Wollaston Labuschagne, DA raadslid vir Wyk 88, het op sosiale media aangedui dat die dam tot verdere kennisgewing gesluit sal wees.

Die Stad van Ekurhuleni het ook die onmiddellike sluiting van die dam bevestig weens die moontlikheid van besmette water.

“Die Stad wil mense wat normaalweg by die dam hengel, waarsku om op te hou om dit te doen, ingeval die vis giftig is en ‘n bedreiging vir menslike verbruik is,” het Zweli Dlamini (waarnemede woordvoerder vir Ekurhuleni) in ‘n verklaring gesê.

“Die betrokke partye van die Nigeldam sal van die opening van die fasiliteit in kennis gestel word sodra ondersoeke afgehandel is en die water gesuiwer is.”

Exit mobile version