Local newsNews

Cornelius kweek massiewe pampoene

Een van die pampoene sal binnekort by Quality Meats in Heidelberg staan waarby inwoners dit kan gaan aanskou.

Cornelius Bester van Rensburg gaan op 19 Maart een van sy skoupampoene by die Goliat van Gat Pampoenfees in Pretoria inskryf.

“Die skoupampoen gogga het my in 2019 gebyt,” het Bester vertel.

“Een van my vriende het met ‘n pit hier aangekom en ek onthou ek het nog met die rugby wêreldbeker finaal besluit om die ding in die grond te druk en te kyk wat gebeur.”

Vanjaar het Bester twee pampoene wat hy groei, waarvan een by die pampoenfees ingeskryf sal word en die ander geskenk sal word.

Die pampoen, wat sowat 180kg weeg, sal by die Goliat van Gat Pampoenfees geskou word.

“Die pampoene is nie iets wat natuurlik sou voorkom nie,” het hy verduidelik.

“Dit is die Dills Atlantic Giant variant wat gekweek is om so te kan groei.

“Die van my, wat albei al oor die 100kg is, is eintlik nog maar klein in vergelyking met die nasionale rekord wat oor die 800kg is.”

Bester meen dat die groei van die pampoene vir hom ‘n stokperdjie geword het, alhoewel dit baie moeite en geduld verg.

“Die hele proses begin in Oktober maand. Ek het nou wel die jaar eers in Januarie geplant, maar Oktober is gewoonlik wanneer die saad binnehuis gepamperlang en versorg word.

“Hier teen einde Oktober, of begin November, kan die saad geplant word afhangende van verskeie faktore soos die reënval en die saad se ontkieming.

“Ek gee byvoorbeeld vir die pampoene ‘n reeks verskillende produkte wat help om die pampoen beter te laat groei en voedingstowwe in te neem.

Een van die pampoene sal ook in die dorp besigtig kan word waarna dit geskenk sal word.

“Die pampoene kort ook verskriklik baie water. Daardie week wat ons so gesukkel het met water, was die pampoene se groei ook relatief benadeel, al het ons huis net twee dae sonder water gesit.”

Ten tyde van die berig het die pampoen wat skou toe gaan alreeds sowat 180kg geweeg.

Die tweede pampoen sal vanaf 18 Maart by Quality Meats in Heidelberg staan waar inwoners die pampoen kan aanskou.

Dié pampoen sal ook na ‘n tyd geskenk word om vir minderbevoorregtes kos te gee.

Related Articles

Back to top button