Local newsNews

Kunsmark mik vir rekord

Kunstenaars word uitgenooi om deel te wees van die mark.

Staxx Stationers and Art Supplies wil tydens hul eerste kunsmark van die jaar, wat op 5 Maart sal plaasvind, ’n rekord opstel.

Kunstenaars, wat fyn kunstenaars en beeldhouers insluit, word uitgenooi om deel van die rekord geleentheid te wees.

“Die idee is dat soveel moontlik kunstenaars by ons aansluit op die dag,” het Nita Alberts van die kunsgallery vertel.

“Bring jou esel, verf en enige iets wat jy sal nodig kry om op die dag in ’n tipe van lewendige optrede jou kunswerk te skep.”

Kunstenaars kan of ’n nuwe stuk op die dag begin of ’n vorige stuk waaraan hulle reeds werk, klaarmaak.
Verskeie kunsgallerye in Gauteng sal genooi word om die geleentheid by te woon.

“Ons het al in die verlede gesien dat mense baie daarvan hou om te sien hoe ’n kunswerk voor hul oë lewe kry,” het Alberts vertel.

“By die geleentheid sal mense die kans kry om vir kunstenaars vrae te vra oor hul werk en natuurlik sal die kunstenaar geleentheid kry om hul naam daarbuite te kry.”

Kunstenaars kan ook reeds-voltooide werk op die dag saamneem om te verkoop.

“Kuns is een van die oudste aktiwiteite van die mensdom,” het Alberts gesê.

“Dit verdien meer blootstelling, veral in ons area.”

Vir meer inligting oor die dag, of hoe om in te skryf as deelnemer, kontak die kunsgallery by 068 500 3487 of stuur ’n e-pos na admin@staxx.co.za

Related Articles

Back to top button