Onwettige storting is onaanvaarbaar

Hoe nou gemaak Lesedi?

Op 23 Januarie het ’n lid van die publiek vir AfriForum in kennis gestel oor onwettige storting in die Poortjieweg.

AfriForum Heidelberg het op 24 Januarie ondersoek gaan instel en gevind dat daar wel baie gemors in die area gelê het.

By verdere ondersoek het Willem Sprong van dié tak ontdek dat dit heel waarskynlik dieselfde rommel is wat twee weke gelede by die kragsubstasie in Retiefstraat rondgelê het.

Die HERAUT het op 19 Januarie ’n berig geplaas (Inwoners moedeloos oor kragonderbrekings) oor ’n inspeksie wat by die kragsubstasie plaasgevind het, waartydens daar bevind is dat die toestand van die stasie onaanvaarbaar was.

Die gebied was besaai met rommel.

Dit wil voorkom of die rommel van die kragstasie, wat onder andere verskeie kragkabels en ander elektriese komponente insluit, bloot in Poortjieweg gestort is.

Die HERAUT het destyds met die skakelbeampte by Lesedi Munisipaliteit, Katleho Seaga, gepraat, en is die versekering gegee dat die saak dadelik aandag sou geniet. Sprong het op 24 Januarie die saak aan Lesedi Munisipaliteit se bestuur gerapporteer en ’n proses om die rommel te verwyder is aan die gang gesit.

Willem Sprong van AfriForum Heidelberg-tak by van die onwettige rommel wat gestort was.

Sprong het gevra of dit nou die “nuwe normaal” is.

“Hoe is hierdie gedrag aanvaarbaar? Hoe kan ons te werk gaan om te verseker dat dit nie weer gebeur nie?” het hy gevra.

Exit mobile version