Leer ons mense ken: Johann Ekermans

Johann Ekermans is 'n bekende gesig by veral die Nigel Rolbalklub.

Johann Ekermans (79) is ’n bekende gesig in die dorp, veral by die Nigel Rolbalklub. Hy was vir 40 getroud met Barbara en het twee kinders, Vicki en Johann junior. Hy is ook oupa van vyf.

Waar het jy al lekker vakansie gehou?

Dit was moeilik om my vrou se dood nege jaar gelede te verwerk en toe my suster en haar man my nooi om by hulle in Oostenryk te gaan kuier, is ek soontoe vir drie maande. Ek en my swaer en sy seun het op fietse geklim en wekelank deur Tsjeggo-Slowakye, Hongarye, Kroatië en en Sloewenië getoer, al langs die Donaurivier gery en meestal in tente geslaap. Die verandering van omgewing het my goed gedoen. Na my huwelik het ek ophou fietsry, so dit was ’n belewenis om weer fiets te ry na soveel jare.

Buiten rolbal, watter sportsoort beoefen jy graag?

In my jeug was ek ’n kranige, kompeterende fietsryer wat Griekwaland-Wes provinsiaal verteenwoordig het. My hoogtepunt in my fietsryloopbaan was in 1969 toe ek die Paarl Boxing Day wedren gewen het.

Hoe lank is jy al betrokke by die Nigel Rolbalklub?

Ek is reeds etlike jare deel van die Nigel Rolbalklub en bo en behalwe dat ek die spel geniet, het ek ook “familie” daar gevind en wonderlike vriende gemaak.

Wat het gemaak dat jy die sportsoort wou beoefen?

Toe ek terug in Suid-Afrika kom na Oostenryk, het ek ’n woonstel by Eeufeespark Aftree-oord gekoop en gou besef dat ek iets sal moet vind om mee besig te bly. Ek het rolbal ontdek en is steeds elke dag dankbaar daaroor. Rolbal het my toevlug, eintlik my hele lewe, geword.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek het deesdae min vrye tyd, maar doen dan en wan blokraaie, bou legkaarte en ry darem, wanneer dit nie reën nie, met my fiets rolbalklub toe. ’n Dierbare vriend, Piet Smidt, het my gehelp om ’n oulike braaiplek by my woonstel in te rig en daar kuier ek graag en luister na my geliefkoosde musiek.

Wat is jou gunsteling kossoort?

Soos talle landgenote is en bly braaivleis my ete van keuse.

Wat sal jy graag nog wil doen?

Op TV kyk ek uitsluitlik die sportkanale en na hoevele uitsendings van die Tour de France, ken ek Frankryk baie goed, maar sou ek ooit die geleentheid kry, is dit waarskynlik daardie fietsryroete wat ek rustig en kuier-kuier sou wou beleef, met ’n motor!

As jy een ding kon verander, wat sal dit wees?

Ek het algaande vrede gemaak met die verloop van die lewe, aanvaarding gevind vir dit wat nie verander kan word nie en kan in eerlikheid myself as gelukkig en tevrede beskryf.

Kyk jy graag rugby? Wie dink jy gaan die Currie-beker wen?

Ek kyk, maar raai nooit waagskote nie. Waarom tog vriende verloor deur byvoorbeeld Currie-beker uitslae te voorspel?

Exit mobile version