Leer ons mense ken

Ds Chris Engelbrecht, van die NG Nigel-Suid gemeente, het in Nigel grootgeword.

Ds Chris Engelbrecht (69) van die NG Nigel-Suid gemeente is ‘n bekende gesig in die dorp. Hy is ook betrokke by die SAVF, waar hy voorsitter is. Die dorp was nog altyd ds Chris se tuisdorp. Hy was gebore op die plaas Witkop in die Nigel-distrik en het in die dorp skool gegaan, waar hy in 1970 aan die Hoërskool John Vorster gematrikuleer het. Ds Chris en sy vrou, Cecile het drie kinders en drie kleinkinders.

ALSO READ: Bekende oud-speurder oorlede

• Hoe lank is jy al by die NG Nigel-Suid gemeente betrokke?
Ek is sedert 2019 by die gemeente betrokke. Aanvanklik was dit net in die hoedanigheid van pastorale hulp, maar ek is sedert Januarie van 2020 daar as bevestigde predikant.

• Waar het jy studeer en wanneer is jy gegradueerd?
Ek het aanvanklik vir ‘n BA graad gestudeer met die oog op onderwys aan die destydse PU vir CHO op Potchefstroom. Maar ek het begin met Grieks en Hebreeus in 1976, waarna ek Teologie begin studeer het aan die Universiteit van Pretoria. Ek het my graad in 1980 voltooi en in 1981 my Teologiese Diploma.

• Watter gemeente het jy eerste bedien?
Nadat ek in 1981 gelegimeer was, het ek ‘n beroep gekry na die NG Gemeente Roossenekal, waar ek bevestig was as predikant en arbei in 1982. Ek was daar tot 1994.

• Was jy al die jare ‘n predikant?
As gevolg van finansiële redes, was ek losgemaak van my eerste gemeente. Ek het daarna verhuis na Colingy, waar ek vir ongeveer twee jaar as hoof van ‘n kinderhuis gestaan het. Hierna het ek die korporatiewe wêreld betree as ‘n finansiële adviseur vir ‘n aantal jare en het ook intussen terug na my tuisdorp, Nigel getrek. Ek het hier as die bestuurder van die Tuiste vir Bejaardes gewerk vanaf 2001 tot my aftrede in 2017.

• Was dit vir jou moeilik om die eerste keer voor ‘n gemeente te staan en preek?
Ek het reeds as student begin preek in die NG Sendingkerk, Alrapark en het ook afgelos by die NG Nigel-Suid gemeente in 1979. Dit was maar vir my ‘n skrikwekkende ervaring, om veral as student te moet preek voor ‘n kerk vol mense voor wie jy self grootgeword het, maar soos mens groei in ervaring, so word dit beter. Die vlinders in jou maag verlaat jou nooit heeltemal nie, maar dit spoor jou aan om elke keer jou beste te lewer.

• Die kerk lê naby aan jou hart; Waarom het jy besluit om dominee te word?
Ek het baie vroeg in my lewe al die roeping gevoel om predikant te word, maar het ook baie daaroor getwyfel, totdat ek in 1974 aan die einde van my derde jaar as onderwysstudent na ernstige gebed die roeping ontvang het om predikant te word.

• Wat is die mooiste ding wat jy al in u werk teëgekom het?
Op Coligny het ‘n onbekende vrou my een aand geskakel en gevra om vir haar pasgebore kleinkind te bid wat ernstig siek was. Die dokters het nie veel hoop gehad dat die kind sou bly lewe nie. Ek het sommer so oor die plaastelefoonlyn blindelings vir hulle gebid, maar nie weer van hulle gehoor nie, omdat hulle nie in ons kerk was nie. ‘n Hele paar maande daarna loop die vrou my in die dorp raak en herinner my aan daardie aand wat ek vir haar kleinkind gebid het. Die kind het bly lewe, gesond geword en het as ‘n pragtige baba met blou ogies en wit krulhaartjies daar in ‘n stootwaentjie gesit. Dit het aan my getoon dat God steeds wonderwerke doen wanneer ‘n mens tot Hom bid.

• Watter raad sal jy aan iemand gee wat dit oorweeg om ‘n predikant te word?
Glo in die Here Jesus en leef in ‘n daaglikse verhouding met Hom. Hy sal aan jou sy wil vir jou lewe bekend maak.

 

Exit mobile version