Local newsNews

Eie rolstoel is welkome geskenk

Werner kry sy eie wiele.

Daar was op 9 Desember baie dankbaarheid en ’n groot glimlag op die gesig van Werner van der Merwe (63) danksy ’n welkome en vroeë Kersgeskenk.

Dié inwoner, wie al vyf jaar lank rolstoel gebonde is, het ’n rolstoel ontvang danksy die Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak in samewerking met dié organisasie se Springs tak.

Tot nou toe het Werner ’n geleende rolstoel gebruik van ’n staatshospitaal. Hy meen dit was altyd ’n gesukkel om sy eie rolstoel te kan besit en sodoende alledaagse take te kon uitvoer.

Sy inkomste wat hy ontvang is die van ’n staatspensioen.

Om sy inkomste aan te vul, beman hy ’n stalletjie in Maraisstraat, Rensburg, en verkoop groente en vrugte.

Hy is ’n bekende gesig daar en inwoners is gewoond daaraan om deur die vriendelike man gegroet te word.
Sy positiewe gesindheid en glimlag is daar vir almal om te sien.

Werner se beserings kom al ’n lang pad saam met hom. Hy het beserings opgedoen met rugby terwyl hy op skool was.

Daarna, terwyl hy in die weermag was, is hy beseer deur ’n landmyn ontploffing, en ’n motorfietsongeluk later het ook ’n impak gehad.

Werner is egter ’n persoon wat daarvan hou om aan die gang te bly.

Inteendeel, hy is besig om verder te studeer. Sy studierigting is in menslike hulpbronne en daar is nog een module wat hy moet voltooi.

Ongelukkig het finansies nou opgedroog, wat tot gevolg het dat hy nie met sy studies kan voortgaan nie.
Werner het in die verlede twee besighede besit, waaronder ’n konstruksie maatskappy in Pretoria en ’n glas- en venster installasie besigheid in Kempton Park.

Met al sy beserings en met die werksgeleenthede wat al hoe minder begin word het, moes hy ongelukkig ophou daarmee.

Hy benodig ook meer mediese behandeling, maar kan nie ’n mediesefonds bekostig nie.

Werner het vertel dat hy aansoek gedoen het by ’n staatsaftreeoord om ’n plekkie te kry om sy eie te noem. Ongelukkig is daar ’n waglys van vyf jaar daarvoor.

In die tussentyd pas hy ’n huis op in Rensburg wat deel van ’n boedel is.

Indien lede in die gemeenskap vir Werner kan bystaan, kan hulle vir Frik van Niekerk van Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak by 079 220 5555 kontak.

Solidariteit Helpende Hand is ook op soek na nog ’n rystoel vir ’n ander behoeftige in die area, asook meer ondersteuners en bestuurslede vir 2022.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button