Leer ons mense ken

Leonida Kleyn is onlangs as Hoërskool John Vorster se hoofseun vir 2022 gekies.

Leonida Kleyn is onlangs as hoofseun van Hoërskool John Vorster vir 2022 verkies.

Om die hoofseun van jou skool te wees bring groot verantwoordelikhede. Is jy reg vir die uitdagings wat 2022 sal bring?

Ja, met die sterk span wat verkies is en om saam met mekaar te staan, glo ek dat alle uitdagings as geleenthede om te groei gesien sal word.

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien uit om saam met die nuwe UR te werk en om deel te wees van Vossieland se groei asook die inburgering van die nuwe graad agt leerders – om hulle deel te laat voel van Vossieland.

Wat behels jou pligte as hoofseun van jou skool?

Om seker te maak dat elke UR-lid hul verpligtinge nakom en ’n goeie voorbeeld vir die leerders te wees. Ek wil ook graag help waar ek kan wanneer enigiemand hulp nodig het. Ek voel dit is my plig om ons skool se leerders te motiveer en die gees in Vossieland aan die brand te steek.

Wat is jou sterkste leierseienskap?

Ek hou van die uitdaging van besluitneming en om leiding te neem wanneer ander verkies om terug te staan.

Het jy ’n rolmodel en waarom dié persoon?

Beslis Cheslin Kolbe, omdat hy bereid is om hard te werk en mense verkeerd te bewys. Al is hy een van die kleinste spelers op die veld speel hy, volgens my, die beste. Hy het ’n groot hart en ek hou van rugby, so ek verkies ’n rugby speler as my rolmodel.

Wat is jou siening oor eksamens? Dink jy ’n toets of praktiese ervaring baat jou meer?

Ek hou nie van leer nie, maar as jy weet jou toekoms hang daarvan af dan gaan dit nie oor dat jy nie daarvan hou nie, maar dat jy eendag jou punte moet gebruik om verder te gaan studeer of te doen wat jy voor lief is. Ek dink dat praktiese ervaring jou meer baat, want jy het dan nie net daarvan gehoor of geleer nie, maar self gedoen, wat jou selfvertroue gee.

Watter vak is jou gunsteling en waarom?

Lewenswetenskap, want ek hou baie daarvan om oor die menslike liggaam te leer, en die praktiese take maak dit baie interessant.

Kan jy sonder jou selfoon klaarkom?

Ja, my foon kan my partykeer baie irriteer.

Spandeer die jongmense van vandag te veel tyd op hul fone?

Ja, ek glo ook dat die pandemie bygedra het dat jong mense permanent op hul fone is, want jy kon niks anders doen tydens die grendeltydperk nie.

Neem jy deel aan sport? Wie is jou gunsteling sportman/vrou van alle tye en waarom?

Ja, ek neem deel aan rugby. Cheslin Kolbe is my gunstelling, want hy is ’n inspirasie vir baie jong mense.

As jy vir ’n dag die hoof van jou skool kon wees, wat sou jy doen?

Ek sou graag ’n geesvang dag wou reël.

Het jy al besluit wat jy na matriek wil doen?

Ek wil verder gaan studeer en ek wil baie graag aangaan met rugby.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek kuier graag in my vrye tyd.

Wat is jou gunsteling kos?

Baie beslis pasta.

Exit mobile version