Masincedane Sorgsentrum teiken van selfoondiewe

Twee mense wat hulself as die ouers van ’n gestremde kind voorgedoen het, het op 4 November die Masincedane Sorgsenrum beroof.

Christine Kruger, die bestuurder en stigterslid van die sentrum, het haar misnoeë uitgespreek na die voorval en gesê dat sy nie kan verstaan hoe gewetenlose misdadigers ’n plek wat daar is om mense te help, wil beroof nie.

Die verdagtes het die perseel net na 12:00 betree. Hulle het met ’n wit Ford Fiesta met Noordwes nommerplate gery.

Volgens Kruger moes die booswigte presies geweet het wat by die sentrum aangaan en ook kennis gehad het van watter tyd die beste sou wees om die sentrum te teiken.

Daar was twee mense in die voertuig en ’n vrou het in Engels met Kruger gepraat en gesê dat sy ’n 17-jarige kind het wat Downsindroom het wat sy by die sentrum wil inskryf omrede hulle volgende jaar Heidelberg toe verhuis.

Terwyl Kruger en die vrou deur die sentrum gestap het, het sy aan Kruger gevra of haar man by hulle kon aansluit.

Terwyl die vrou met Christine gepraat het, het die man by ’n tafel gestaan waar Hannelie Swart gesit het om ’n ogie oor die gestremdes te hou. Haar selfoon het op die tafel gelê.

Swart het gesê dat sy dit vreemd gevind het dat die man heeltyd ’n rugsak sou dra en dat hy dit nie in die voertuig gelaat het nie.

Die vrou het na ’n ruk vir Kruger gesê dat hulle haar sou laat weet sodra hulle besluit het, waarna sy en die man vinnig daar weg is.

Kort daarna het Swart besef haar foon is van die tafel gesteel.

Volgens Kruger was beide die man en vrou netjies geklee.

Die vrou het Engels gepraat, maar hulle het mekaar in Zulu aangespreek.

Die man is beskryf as buitengewoon lank en die vrou skraal met lang swart dreadlocks.

“Om te sê ons is geskok, kwaad en verneder is gering gestel. Dit is hartseer dat ’n plek wat gestremde persone as hul veilige hawe beskou so deur gewetenlose skelms misbruik kan word,” het Kruger gesê.

’n Saak is by die SAPD geopen.

Exit mobile version