Local newsNewsSchools

Leer ons mense ken

Elaine Hartkopf is as Hoërskool John Vorster se hoofmeisie vir 2022 gekies.

Elaine Hartkopf (17) is onlangs as hoofdogter van Hoërskool John Vorster vir 2022 verkies. Sy en haar jonger broer, Maro (14), bly saam met hul ouers, Maritza en Robert, in Ferryvale, Nigel.

Jy is die hoofmeisie van jou skool vir 2022. Wat was die eerste ding wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?

Absolute dankbaarheid vir die voorreg wat Jesus my gegee het.

Wat maak mens ’n goeie leier?

Vir my is integriteit, self-dissipline, nederigheid en die vermoë om saam met alle mense in harmonie te kan werk die belangrikste.

Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Beslis. Skole sal nie ’n visie hê sonder leiers nie. Jonger grade sal ook nooit dieselfde dryfkrag hê sonder die droom om eendag ’n leier te wees nie.

Hoe gaan jy die jaar aanpak?

Ek sal die jaar elke dag met ’n breë glimlag aanpak. Postitiweit is ’n sleutel tot sukses. Harde werk en om gefokus te bly is ook op my agenda.

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek kan nie wag vir ons matriekafskeid nie. Ek sien ook baie uit na die leierskamp. Maar dit waarna ek die meeste uitsien is om die beste leier te wees wat ek moontlik kan wees, leerders te inspireer en ’n voorbeeld te wees wat hulle kan volg.

Het jy ’n rolmodel en waarom dié persoon?

Ek kyk al van kleins af op na Sophie Scholl. Haar storie en waarvoor sy gestaan het inspireer duisende mense wêreldwyd om op te staan vir wat reg is, ongeag die omstandighede. Ek wil graag, soos sy, die oortuiging hê om vir dit waarin ek glo onwrikbaar vas te staan.

Het jy al besluit wat jy na matriek wil doen?

Ja, as dit die Here se wil is, wil ek graag gaan swot om ’n dermatoloog te word.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek spandeer meeste van my vrye tyd saam met my familie en vriende. Kuns en musiek is iets wat ek beoefen wanneer ek ’n tydjie vir myself het.

As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

Beslis dat selfsug verdwyn. So sal dinge soos hongerte, armoede en onregverdigheid verdwyn.

Wat laat jou glimlag?

Om die mense vir wie ek die liefste is gelukkig te sien. En goeie toetspunte natuurlik.

Wat maak jou op die plek kwaad?

Mense wat nie ordentlik na diere kyk nie óf as mense altyd die sleg in alles sien.

Wat is jou gunsteling kos?

Braaivleis en ’n lekker braaibroodjie. Ek is ook mal oor pasta.

Related Articles

Back to top button