Local newsNews

Gesellige afsluiting vir dinamiese VLU vrouens

Die VLU vrouens van Nigel het hul besige jaar met 'n heerlike ete herdenk en afgesluit.

Die dinamiese lede van die VLU se Nigel-tak het Donderdag hul besige jaar afgesluit.

’n Terugflits na al die lief en leed van die jaar se gebeure, gepaard met ’n paar vinnige reëlings rakende die tak se kombers-projek en hul kompetisie artikels, het die vergadering afgeskop.

“Baie dankie vir elkeen van julle wat so getrou deel bly van ons tak,” het voorsitter Ronel Lombaard gesê.

“Dit was ’n moeilike jaar vir ons almal, maar ons glo en vertrou dat volgende jaar net goed sal wees. Ons wil ook graag meer persone nooi om deel te word van ons tak en hoop dat die nuwe jaar talle nuwe lede ook sal aanbring.”

Die tak het ook onlangs by die VLU Goudrifstreek se jaareindfunksie as die Dancing Queens opgetree en die streek se vrouens met hul danspassies vermaak.

“Ek wil baie dankie sê aan elkeen van julle wat saam met my op daardie verhoog geklim het en bereid was om julle name met ’n plank te slaan,” het Lombaard haar dank uitgespreek.

Tydens die tak se eie afsluitingsfunksie het die vrouens ook ’n wilde olyf-boom, oftewel olienhoutboom, op die NG Kerk-Oos se perseel geplant.

Die vrouens het die vergadering en die jaar se verigtinge met ’n gesellige ete afgesluit.

Die tak sal weer in Januarie bymekaarkom om die nuwe jaar met nuwe energie aan te pak.

Vir meer inligting of om by die tak aan te sluit, kontak vir Anna-Marie Axer by 082 886 2002.

Related Articles

Back to top button