GALLERY: Groot storm tref Rensburg Sondagaand
’n Storm wat Rensburg Sondag ongeveer 18:40 getref het, het skade aangerig en ook talle inwoners sonder krag gelaat.
’n Sterk stormwind het die Dennehof woonstelgebou in Suttmanstraat se dak op plekke afgeruk en bome is ook ontwortel.
Die sinkplate wat van die dak afgewaai het, het op kragkabels te lande gekom en veroorsaak dat Rensburg in die donker gelaat was.
Een van die inwoners van Dennehof, Susan van der Westhuizen, was besig in haar badkamer toe die wind die dak afgeruk het.
“Daar het ’n baksteen deur die dak geval en my met ’n sentimeter gemis,” het Van der Westhuizen aan HERAUT gesê.
Haar woonstel was heeltemal onder water en alles wat op die grond gestaan het is beskadig.
Ander inwoners en mense in die buurt het gehelp waar hulle kon om meubels uit te dra na ’n ander woonstel om te verseker dat die besittings nie verder beskadig word nie.
Van der Westhuizen het groot lof vir die nooddienste en die Lesedi Munisipaliteit gehad wat haar en ander inwoners vinnig te hulp gesnel het.
Patrolleerders van Heidelberg GPF en AfriForum Buurtwag het ook gehelp waar hulle kon.
Daar was ook alternatiewe blyplek gegee, veral aan die inwoners dat deur die storm geraak was.
“Ek wil veral vir Clement Masinga van Lesedi Fire and Rescue bedank vir die vinnige hulp wat hy en sy span aan ons verleen het,” het Van der Westhuizen bygevoeg.
“Ook vir die matrasse wat geskenk is sodat baie van die inwoners darem deur die nag droog kon slaap.”
Niemand het beserings opgedoen nie.