Local newsNews

Gemeenskapsprojek lei onder kwaaddoeners

Earth Owl en die Khuthaza Foundation se mees onlangse gemeenskapsprojek, die plant van bome op 11 September, word negatief aangeraak deur diefstal en kwaaddoeners.

Bome, onder andere die olienhoute wat nog vars in die grond is, word gesteel en beskadig.

“Dit maak mens hartseer,” het Roché Pepler van Earth Owl gesê.

“Ons probeer ’n saadjie van hoop vir die toekoms plant, en dan word daardie saadjie net plat getrap as sulke dinge gebeur.”

Pepler meen dat hulle ’n ruk gelede agter gekom het dat twee bome weg was, maar dat dit nie op daardie stadium ’n probleem was nie, aangesien hulle nog ekstra bome byderhand gehad het.

“’n Klein dogtertjie en haar ouma, wat oorspronklik gehelp bome plant het, het ons laat weet dat hulle boom weg is,” het Pepler verder verduidelik.

“Ons het toe natuurlik gaan ondersoek instel en gevind dat sewe bome weg is.

“Een van die bome se punt was ook fisies afgesny, dit is duidelik dat die punt nie net afgebreek was nie.”

Die jong boom se punt was afgesny.

Pepler het verder verduidelik dat die projek grootliks gemik was op hoop vir die toekoms, veral onder die jeug.

“Die idee was, plant ’n boom vandag en jy het skaduwee môre,” het sy gesê.

“Leer ’n kind ook om te kan beplan vir môre. Ek en Santana wil deur middel van die projek en ander gemeenskapsprojekte konsentreer om die hoop terug te bring onder ons jeug.”

Pepler meen dat sy en die res van die projek se organiseerders vrees dat die jeug nie meer die hoop in sulke projekte sal sien nie, omdat die moeite wat hulle gedoen het nou net weg is.

Indien enige persoon inligting het rakende die diefstal of vandalisme van die bome, kontak vir Pepler by 060 482 1280.

Related Articles

Back to top button