Local newsNews

Gesin in nood na huis brand

Die voorkamer van die huis het tussen 03:00 en 04:00 begin brand.

Die inwoners van ’n huis in Lemoenstraat het op 24 Oktober benoude oomblikke beleef toe die huis waarin hulle rustig geslaap het tussen 03:30 en 04:00 aan die brand geraak het.

“Ons was nog vas aan die slaap toe een van die vertrekke in die huis al heeltemal aan die brand was,” het die huis se eienaar, Mildred Swart, vertel.

“Dit het gelyk soos ’n grys muur rondom ons van al die rook.”

Swart meen die oomblik toe sy en haar huisgesin daarin kon slaag om veilig uit die huis te kom, het die plafon van die voorhuis ineen gestort.

“Die vertrek was ’n dubbel verdieping en daar was baie hout,” het Swart verduidelik.

Mildred Swart in die voorkamer wat deur haar oorlede man gebou is.

“Die plafon wat die boonste en onderste verdieping geskei het, was hout. Daar was ook ou-hout meubels en ander items daar binne, wat natuurlik die vuur baie vinnig aangewakker het.

“Nadat die plafon geval het, was dit seker 10 minute toe is die hele vertrek in vlamme gehul en het die dak inmekaar gesak.”

Bure het die gesin te hulp gesnel en emmers water aangedra en ook met tuinslange die vuur probeer blus.
Die gesin, wat nie self ’n tuinslang het nie, is dankbaar vir die gemeenskap wat so flink gereageer het.

“Ons weet nie wat sou gebeur het as ons bure nie begin help het nie,” het Janine Stander, Swart se dogter, gesê.
“Die vuur het, danksy die hout dakkappe, ook na die res van die huis begin versprei.

“Bure het op lere geklim en water op die dak gegooi en gespuit in ’n poging om die vlamme blus. Daarvoor kan ons nooit genoeg dankie sê nie.”

Die voorkamer was vol verskeie houtmeubels en ornamente en het ook ‘n houtplafon gehad.

Volgens die gesin is alles wat in die vertrek was tot niet, waaronder sommige van die kinders se skoolklere en boeke, skottelgoed, ’n antieke bababed en platespeler.

Swart het ook haar dankbaarheid uitgespreek dat niemand tydens die voorval beseer was nie.

“Die wat in die vertrek geslaap het, het uitgekom voor die plafon geval het,” het sy gesê.

Ten spyte van die brandskade aan die voorkamer en ’n gedeelte van die dak, het die gesin geen elektrisiteit nie, aangesien die kragboks in die voorkamer geleë was.

Van die teëls op die dak is ook beskadig, en danksy die reën wat gedurende die week geval het, is een plafon in die huis ook besig om in te sak van al die water.

“Ek is baie hartseer oor die vertrek wat gebrand het,” het Swart gesê.

Die voorkamer was vol verskeie houtmeubels en ornamente en het ook ‘n houtplafon gehad.

“Nie net vir die skade nie, maar omdat my oorlede man die huis gebou het, en daardie voorkamer was ons beginpunt.”

Swart se oorlede man het die huis in 1989 gebou en het altyd die huis as ’n pragtige en gerieflike huis beskou.
Helpende Hand se Heidelberg-tak en verskeie ander organisasies en kerke het alreeds hulp aan die gesin verleen.

Indien daar gemeenskapslede is wat die gesin verder kan bystaan met hulp of donasies, kontak Frik van Niekerk (voorsitter van Helpende Hand se Heidelberg-tak) by 079 220 5555, Janine Stander by 073 534 1321 of vir Mildred Swart by 078 117 7732.

Mildred Swart saam met haar kleinseun voor die voorkamer wat gebrand het.

Related Articles

Back to top button