Local newsNews

Help Hendrik-projek is aan die rol

Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak het onlangs die projek van stapel gestuur om jong seuns te help.

Helpende Hand se Heidelberg-tak het onlangs die Help Hendrik-projek in die gemeenskap van stapel gestuur met die doel om tienerseuns, oftewel jong mans, by te staan indien daar ’n behoefte sou wees.

Die projek poog om aan behoeftige seuns in die gemeenskap, wat dit nie kan bekostig nie, ’n skeermes, seep en ander produkte vir persoonlike higiëne te skenk.

Dit poog ook om die behoeftiges te help om die oorbrugging van seun-wees na man-wees sonder skaamte te kan aanpak.

“Helpende Hand Heidelberg wil dankie sê aan Armand Jubber wat die eerste skeersakkie geskenk het,” het Frik van Niekerk, voorsitter van die tak, gesê.

“Ons is ook groot dank verskuldig aan Marlene Walkden, die maatskaplike werker by Suikerbos Aftree-oord wat haar eie projek van stapel gestuur het en by bejaardes van die oord skenkings ingesamel het.”

Van Niekerk het op 20 Oktober 32 skeermesstelle, 35 sepe, asook skeerroom en waslappe by Walkden ontvang.

Met hierdie skenking is die beoogde getal om 30 seuns te help bereikbaar en kan die tak ten minste 33 seuns help.

“Ons beplan om dit in 2022 sodra die skole heropen te verdeel by ons plaaslike skole Hoër Volkskool, Laer Volkskool en Laerskool AG Visser,” het Van Niekerk gesê.

“Saam met die skenking sal die seuns ook instruksies kry oor hoe om te skeer.”

Vir meer inligting oor die projek of om skenkings te maak, kontak vir Van Niekerk by 079 220 5555.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button