Local newsNews

Balfour boer aangewys as jongboer van die jaar

Dawie Brits, wat in die Balfour distrik boer, is onlangs as die TLU SA Jongboer van die Jaar aangewys.

BALFOUR – “Ek sal nou nie presies kan verduidelik hoe ek voel nie, maar ek het voluit gegaan en my beste gegee vir die kompetisie, so ek is regtig bly oor die uitkoms.”

Dit is die woorde van Dawie Brits (35), ’n boer vanuit die Balfour distrik wie onlangs as die Transvaal Landbou-unie (TLU) SA se Jongboer van die Jaar aangewys is.

Die HERAUT het by Brits op die plaas gaan kuier om meer te wete te kom.

Dawie Brits se hart het nog altyd by die boerdery gelê.

“Een van TLU SA se streeksbestuurders, Lynette du Plessis, het my aangemoedig om in te skryf vir die kompetisie,” het Brits vertel. “En so het ek toe op die laaste dag wat inskrywings aanvaar was, ingeskryf.
“Die kompetisie is vanjaar in samewerking met Manitou, Santam Landbou, Introlab, CMH Ford Hatfield en C-Track aangebied.”

Brits meen dat hy deel was van 489 inskrywings, waarna drie boere van elke streek deurgedring het na die Nasionale Jongboerkompetisie.

Tydens die tweede fase van die kompetisie ontvang streekfinaliste die nasionale beoordelingspan op hul plase, waar die finaliste verskeie aspekte van hul boerderytegnieke uit wys.

Die nasionale beoordelingspan bestaan uit kundiges op spesifieke landboukundige velde wat ’n objektiewe wetenskaplike metode gebruik om die wenner aan te wys aan die hand van internasionale bestuurskriteria.

Die kompetisie, wat al jare lank bestaan, vereis ook dat boere wat inskryf 35 jaar of jonger moet wees en ’n opbetaalde lid van TLU SA wees.

“Dit was regtig lekker vir my om deel te kon wees van so ’n kompetisie,” het Brits gesê.
“Nie net om deel te kon neem nie, maar ook om met die ander boere wat ingeskryf het te gesels en verskillende tegnieke teen mekaar op te meet.

Brits meen dat alhoewel saadboerdery sy groot liefde is, hy nooit die hoenderboerdery sal afskeep nie.

Dawie Brits en sy familie se boerdery spog met sowat 1.1 miljoen hoenders.

“Ek wou nog altyd boer. Ek het op die plaas groot geword en dit was nog altyd vir my ’n groot liefde.
“Maar my pa het my aangemoedig om eers iets anders agter my naam te kry.
“Op die ouderdom van 18 het ek toe by die 43 Air School in Port Alfred gaan leer om ’n vlieënier te word.
“Ek het vir sowat 14 jaar gevlieg, maar ek, my vrou, Riana, en ons kinders, Pieter en Dawie, het so drie jaar gelede weer teruggekom plaas toe.”

Brits boer nou saam met sy pa op hul familieplaas, Modderbult, met mielies, hoenders en sojabone.
Sy twee seuns, wat albei nog in die laerskool is, deel ook in hul pa se liefde en passie vir die plaas en die boerdery.

Met ’n kontantpakket van R52 000 wat gepaard gaan met die titel van TLU SA se Jongboer van die Jaar, sien Brits en Riana ook uit na ’n oorsese reis na die Manitou Fabriek in Frankryk.

“Ek wil graag vir TLU SA bedank vir die geleentheid om te kon inskryf en deel wees,” het Brits gesê. “Dit is waarlik ’n groot eer en voorreg om te kon wen.
“Hulle doen ’n uitstekende werk en is ’n uitstekende organisasie wat regtig boere se belange op die hart dra.

“My boodskap aan ander boere en die gemeenskap is, moet nie dat politiek jou beïnvloed nie.
“Boer voluit, mens kan nie alles beheer nie. Gee net jou beste en gaan voluit met dit wat jy doen.”

Related Articles

Back to top button