Local newsNews

Helpende Hand en kerke span saam

Helpende Hand se Heidelberg-tak vat hande met kerke in die gemeenskap in die stryd teen armoede.

Helpende Hand se Heidelberg-tak het op 1 Julie ’n gemeenskapsvergadering gehou om sodoende met die rolspelers in die gemeenskap te kommunikeer.

“Die doel was om ons gemeenskapsleiers, soos dié van ons kerke en skole, betrokke te kry in ons dorp,” het Frik van Niekerk van die tak vertel.

“Dit stel vir Helpende Hand in ’n posisie om saam met die leiers ’n meer sinvolle diens te lewer in ons stryd teen armoede.

“Ons moet in ag neem dat die inperking en gepaardgaande maatreëls ons kerke ook onder groot finansiële druk geplaas het. Dit is juis met die in gedagte dat Helpende Hand Heidelberg sy hand uitgereik het na ons plaaslike kerke.”

Solidariteit Helpende Hand wil deur maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling die selfontwikkeling van die mens in sy gemeenskap, en die ontwikkeling van die gemeenskap as geheel, bevorder.

“Tydends ’n gesprek met ds Corneel Rautenbach van die Afrikaanse Protestante Kerk het ons ’n deursigtige vergadering gehad,” het Van Niekerk verduidelik.

“Nie net sal Helpende Hand en die AP Kerk hande vat in die diens van barmhartigheid nie, maar nou ook saamwerk om armoede te verlig en te verbreek.

“Die afgelope jaar was bewyse dat ons omstandighede binne ’n oogwink kan verander.”

In samewerking met die AP Kerk, gaan Helpende Hand teenwoordig wees by die kerk se bazaar op 27 Augustus.
Helpende Hand het die kerk verder gehelp met sowat R1 000 se bestandele waarmee hulle kan woeker vir die bazaar om hulle fondse te verstewig.

Die organisasie het egter ook ingestem om ’n verdere R5 000 kontant aan die kerk te skenk indien Helpende Hand ’n minimum van 25 ondersteuners kry.

“’n Ondersteuner is iemand wat lid word deur ’n debietorder te onderteken van ’n minimum R50 per maand ten gunste van Helpende Hand,” het Van Niekerk gesê.

“Ons hoop van harte om die hele Heidelberg by die bazaar te sien. Helpende Hand nooi ook ander kerke en instansies uit om soortgelyke projekte te reël.”

Vir meer inligting kan Van Niekerk by 079 220 5555 gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button