Local newsNews

Leer ons mense ken – Marlene Walkden

Marlene Walkden sal in September haar 40ste verjaarsdag vier.

Sy woon die afgelope twee jaar in Heidelberg en werk al amper drie jaar as maatskaplike werker by Suikerbosoord. Marlene is in Parys in die Vrystaat gebore, het grootgeword in Frankfort en het in Potchefstroom gaan studeer.

Sy het haar studies verleng na NGO’s en opvoedkundige sielkunde. Na universiteit het sy vir twee jaar in London gaan bly voordat sy terug gekeer het om in Vereeniging by die NG Welsyn te werk. HERAUT het by Marlene gaan inloer.

Hoekom het jy maatskaplike werk gaan studeer?

As kind het ek deur moeilike tye gegaan en almal het altyd na my toe gekom met probleme. Ek was op soek na antwoorde om myself en ander te help.

Wat is die belangrikste aspek van jou werk?

As maatskaplike werker in kinderbeskerming vir 15 jaar was dit kinderbeskerming, verslae en hofwerk. As maatskaplike werke in bejaardesorg is dit iets van alles. Beskerming van bejaardes van verwaarlosing, emosionele, finansiële en fisiese mishandeling, en om bejaardes teen hul eie verwaarlosing te beskerm. ’n Groot rol is om verhoudings tussen ouers en kinders te probeer herstel en te versterk en om kinders te herinner dat God aan hul die opdrag gegee het om hul ouers te versorg.

Waaroor is jy passievol in die lewe?

Om die hande en voete van Jesus te wees en om minderbevoorregte mense te help. Daar is niks lekkerder as om te gee nie.

Wie is jou rolmodel?

Daar was al ’n paar mense wat vir my baie geleer het oor die lewe. Jesus bly die grootste rolmodel van alle tye.
Wat leer jy by die oumense in Suikerbosoord?

Moet nooit ophou beweeg, leef en omgee nie. Lag vir jouself as jy simpel dinge aanvang. Wees dankbaar vir goeie gesondheid, want jy weet nie of jy môre nog pynvry gaan wees nie, hoe vinniger jy vrede maak met ouer en swakker word hoe meer vrede sal jy hê.

Werk aan jou ego en selfstandigheid, soms moet jy jou trots sluk en hulp vra. Leef elke dag voluit, want 95 jaar gaan vinnig verby. Waardeer jou kinders en bou aan goeie verhoudings, jy gaan hul bitternodig kry na 75.
As daar een ding is wat jy kon verander in die wêreld, wat sou dit wees en hoekom?

Rassisme en oorveralgemening. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eie Seun nie gespaar het nie, maar gegee het as losprys vir baie.

Waar hou jy graag vakansie?

Met verlof gaan ek altyd by my ouers kuier en het vir ses jaar elke Oktober saam met die Voortrekkers gaan kamp op Venterskroon. Enige plek in die natuur is vir my lekker.

Wat is jou gunsteling kos?

Braaivleis

Wat is jou stokperdjie?

Teken, verf, fotografie. Ek het ’n Facebook-blad, New Creations, met foto’s van my kuns.
Ek het ook al in ’n paar kore gesing: Bartholomew Hospital Choir in London, Royal Albert Hall Gloria van Handel, Contado at Delta Vereeniging se Passie Spele in Lady Gray en die ouetehuis s’n.

Wat dink jy weet die gemeenskap nie van jou nie?

Ek is eers op 27 met dyslexia gedianoseer. Ek sukkel met getalle en spelling en draai graag onwetend my woorde om. Die wat my wel ken lees mooi tussen die lyne. Maar ek hou van skryf.

Wat is jou boodskap aan vroue gedurende Vrouemaand?

Spreuke 31:10: ’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Die Here gaan jou nie vra waar jy jou klere gekoop het of wat jou hare en grimering gekos het nie. Hy gaan wel vra het jy liefde en sorg bewys aan elke persoon wat Hy op jou pad gestuur het.

Het jy hul stukkend agter gelaat of in ’n beter toestand as voordat hul jou ontmoet het. Wat doen jy met jou talente en gawes wat God vir jou gegee het? Hoe help jy die Koningkryk van God op aarde manifesteer?

Related Articles

Back to top button