Local newsNews

Kunstenaar meen toe deure maak vensters oop

Van Niekerk se ouers en beide oumas het haar altyd gemotiveer om die dinge waarvoor sy lief is na te jaag.

Die inperkinge wat Covid-19 meegebring het en ’n skoueroperasie kon nie die drome en talent van ’n kunstenaar van Nigel kelder nie.

“Ek hou daarvan om kreatief en skeppend te wees,” het Celia van Niekerk (40), ’n skilder, vertel. “So kuns en veral skilder was vir my iets wat natuurlik gebeur het.

“Ek kan dit aan niks anders toeskryf as ’n gawe wat ek van die Here ontvang het nie.”

Na sowat 18 maande se uitdagings, wat ook ’n skoueroperasie aan die begin van 2020 ingesluit het, meen Van Niekerk dat die deure wat vir haar gesluit was, vensters oopgemaak het.

HERAUT het met die skilder gesels om meer oor haar passie en uitdagings uit te vind.

Van Niekerk hou daarvan om mense, veral kinders, te skilder.

“Ek kan nie met sekerheid sê op watter ouderdom ek begin skilder het nie,” het Van Niekerk gesê.

“Ek het maar van kleins af altyd geverf en geteken. Ek het wel op die ouderdom van 10 jaar met ekstra kunsklasse begin en regdeur my skoolloopbaan ekstra kunsklasse by plaaslike kunstenaars geneem.

“Ek wil eintlik sover gaan om te sê ek skilder lewenslank.”

Na skool was kuns egter nie ’n onmiddellike beroepsopsie nie, aangesien daar ’n algemene gevoel was dat mens nie ’n bestaan kan maak as kunstenaar nie.

“Skole en beroepsvoorligters het ‘n mens totaal daarvan afgeraai en aanbeveel dat mens eerder ’n ander kwalifikasie moet bekom,” het sy verduidelik.

Celia van Niekerk meen die laaste paar jaar se uitdagings vir haar die geleentheid gegee het om meer op haar kunswerke te fokus.

“Ek het met ’n paar verskillende loopbaanrigtings gewoeker voordat ek besluit het om wel kuns te gaan studeer.

“Ek het ’n diploma in kuns en ontwerp verwerf, waarvan fotografie ook een van my vakke was. Ek het na my studies vir 14 jaar as fotograaf gewerk, waarvan ek vir sewe jaar daarvan ’n suksesvolle studio in Nigel gehad het.”

Ongelukkig het sy in 2019 ’n skouerprobleem ontwikkel en moes in Maart 2020 vir ’n operasie gaan om dit reg te stel. Die operasie het plaasgevind op dieselfde dag wat die eerste Covid geval in die land opgeteken was.

Die herstelproses en die land wat slegs drie weke na haar operasie ingeperk was, was vir Van Niekerk as fotograaf ’n geweldige terugslag.

“Aanvanklik sou fotografie-studios eers tydens vlak twee kon oopmaak,” het sy gesê.

Van Niekerk meen dat haar ouers en grootouers haar altyd geondersteun het en aangemoedig het om haar passies na te jaag.

“So ek moes dringend ’n manier vind om ’n inkomste te verdien terwyl my skouer herstel. Ek het vir meer as 10 jaar nie aan ’n kwas of potlood geraak nie, maar het gedurende die inperking weer begin skets en skilder, al was dit hoofsaaklik net om die tyd om te kry.

“Ek het natuurlik nie toe geweet dat die inperking die begin sou wees van groot dinge en my loopbaan as voltydse kunstenaar nie.”

Van Niekerk het sedertdien grootliks op haar kunswerke gefokus en het selfs onlangs ’n dekor reeks bekendgestel waarop van haar kunswerke gedruk is.

“My gunsteling vorm is beslis skilderkuns,” het Van Niekerk genoem.

“Ek geniet beide olieverf en waterverf ongelooflik baie as mediums. Ek kon nog nooit regtig kies tussen die twee nie, want vir my is die twee mediums uiteenlopend: waterverf het meer ‘reëls’ wat jy moet navolg om ’n sukses van jou skildery te maak, waar olieverf vir my meer eksperimenteel is en my meer vryheid gee.

“My gunsteling onderwerpe om te skilder is mense in portrette en figure. Ek doen hoofsaaklik my portret-illustrasies in waterverf en figuurstudies van kinders of mense in olie.

Water- en olieverf is Van Niekerk se gunstelling mediums om mee te skilder.

“Ek vind mense interessant en dit voel vir my ek leer so iets van elke persoon wat ek verf.”

Van Niekerk was ook onlangs uitgenooi om by ’n plaaslike kunsgalery en ’n kunsgalery in Pretoria uit te stal as deel van gesamentlike uitstallings.

Sy het gesê haar volgende stap as kunstenaar is om aan ’n solo-uitstalling te begin werk.

“My boodskap aan ander vroue gedurende Vrouemaand is, eerstens, die laaste 18 maande het my geleer dat daar soms deure toegemaak word om mens in ’n ander rigting in te dwing,” het sy gesê.

“Een van my gunsteling films, The Sound of Music, stel dit so mooi: ‘Where the Lord closes a door, somewhere He opens a window’. Dit som my storie oor 2020 en 2021 perfek op. Die inperking en skoueroperasie het die deure na my studio gesluit, maar dit het my gedwing om weer my passie vir skilder en kuns te vind.

“Tweedens, moet nie moed verloor nie. Die regte deure sal op die regte tyd oop maak.”

Related Articles

Back to top button