Local newsNews

Fietsry uitdaging vir ‘n goeie doel

Alle fondse en donasies sal aan die organisasie se welwillendheidsprojekte besteë word.

Meals on Wheels se Heidelberg-tak beplan om ’n fietswedren op 29 Augustus ten bate van die organisasie se welwillendheidsprojekte te hou.

“Die fietsryuitdaging is ’n geleentheid wat daarna streef om verligting te bring aan die Vaaldriehoek se behoeftiges en bejaardes,” het Charl du Toit, die tak se kommunikasie en bemarkingspersoon, vertel.

“Oorspronklik het die geleentheid slegs gefokus op bejaardes se behoeftes, maar het sedertdien gegroei om diegene wat behoeftig is ook te help.

“Dus sal alle fondse wat uit die dag gegenereer word, bydra tot maaltye vir bejaardes en ander behoeftiges.”

Die geleentheid sal by Sedaven, geleë net buite Heidelberg, plaasvind en uit twee wedrenne bestaan.

Kostes vir die twee fietswedrenne beloop R210 per fietsryer vir die 40km en R260 per fietsryer vir die 90km.

Inskrywings kan op die webtuiste (www.cycleevents.co.za) gedoen word en sal op 25 Augustus om 21:00 sluit.

Vooraf-registrasie kan ook by die Cycle Lab in Fourways op 27 Augustus tussen 13:00 en 16:30 gedoen word.

Laat registrasies sal op die dag van die wedrenne vanaf 06:00 gedoen word by Sedaven en die inskrywingsfooie sal verskil: R240 vir die 40km en R300 vir die 90km.

Die roetes is plat en vinnig, geskik is vir nuwelinge.

“Diegene wat sou wou, kan ook geblikte kosse en komberse op die dag by die registrasie gebied afgee,” het du Toit gesê.

Die volgende reëls en regulasies sal tydens die fietswedrenne geldig wees:

• Die dra van valhelms is verplig vir elke wedren.

• Fietsryers moet ten alle tye verkeersreëls nakom, asook die instruksies van verkeersbeamptes.

• Alle reëls van Fietsry Suid-Afrika (FSA) is geldig.

• Deelnemers se wedloopnommers moet aan hul sitplekke geheg word.

• ’n Inligtingsessie voor die wedloop is verpligtend vir alle deelnemers.

• Alle deelnemers word ook aangeraai om hulself vertoud te maak met die roetes. Die roetes sal duidelik afgemerk word en verkeersbeamptes sal by strategiese plekke geplaas word.

Waterpunte en mediese hulp sal ook met elke roete beskikbaar wees.

“Daar sal aan die einde van die byeenkoms ’n prysuitdeling wees sodra al die resultate geverifieer is,” het du Toit gesê.

“Die pryse sluit prettige kouse en trofeë in.”

Vir meer inligting kan die kantoor by 082 738 2909 gekontak word, of ’n e-pos kan aan spectrumsportevents@gmail.com gestuur word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button