SAJKA dojo’s oefen weer volstoom

Aangesien dit ’n nuwe kwartaal is, het Raubenheimer met nuwe innames begin en het reeds 10 nuwe lede bygekry.

HEIDELBERG – Ondanks die pandemie wat sport op skole- en klubvlak in ’n wurggreep het, het sensei Bernard Raubenheimer se SAJKA karateklubs in Heidelberg en Nigel heropen toe die land op aangepaste vlak drie regulasies geplaas is.

Raubenheimer het egter sy klubs lewendig gehou gedurende vlak vier deur klasse aanlyn aan te bied. Die klubs is nou terug op volle sterkte terwyl Covid-19 protokol streng toegepas word.

Aangesien dit ’n nuwe kwartaal is, het Raubenheimer met nuwe innames begin en het reeds 10 nuwe lede bygekry.

Hoewel die studente nog nie kontak-karate mag beoefen nie, word daar hard aan hul tegniekvaardighede gewerk.
Raubenheimer glo dat die verskerping van vaardighede in hierdie tyd een van die positiewe punte is wat uit die pandemie gespruit het. Daar sal hopelik in 2022 weer provinsiale en nasionale kampioenskappe plaasvind.

Raubenheimer se studente oefen hard vir hul gradering in September. Hy het ook meegedeel dat standaarde ten alle tye van hoë gehalte sal moet wees en geen standaarde verlaag is as gevolg van die pandemie nie.

Voorts berei 13 studente voor vir onderskeie nasionale swartgordel graderings in Oktober, wat by Wanderers sal plaasvind. Verskeie eerste Dan (swartgordels) studente berei voor vir tweede Dan.

Raubenheimer oefen op ’n Dinsdag en Donderdag vanaf 6:00 tot 7:00 by die instrukteursklas in Johannesburg om te sorg dat hy die beste vir sy studente kan leer.

Heidelberg Dojo het op 1 Julie hul 47ste bestaansjaar gevier en daar is al meer as 1 000 studente deur die dojo. Alhoewel nie almal tot swartgordel gevorder het nie, glo Raubenheimer dat Heidelberg/Nigel Dojo ’n positiewe invloed op elke student gehad het.

Die klub het 27 senior student (bruin- tot swartgordels) uit ’n totaal van 113 lede.

Raubenheimer glo die groei in karate is as gevolg van beperkinge op junior sport en dat karate op die stadium goeie fisiese en psigiese oefening bied wat jong kinders nodig het in die moeilike tyd en help om liggaamlik aktief te bly.

Hy nooi belangstellendes om gebruik te maak van sy spesiale aanbod van die eerste vier klasse wat gratis is om belangstelling te toets.

Heidelberg SAJKA oefen van Maandag tot Donderdag by Hoër Volkskool en Maandae en Woensdae in die saal van die Moedergemeente in Kerkstraat, Nigel.

Enige iemand vanaf vyfjarige ouderdom is welkom om aan te sluit. Vir navrae kan Raubenheimer by 083 489 8231 gekontak word.

Exit mobile version