Eienaars bied beloning vir honde

Die twee beagles, Mila en Luna, het op 1 Augustus vermis geraak.

Die Dell-gesin van die plaas Eendracht net buite die dorp is angstig op soek na hul twee honde wat Sondag ongeveer 11:00 vermis geraak het.

Die twee opregte beagles, Mila (3) en Luna (2), het uitgekom en was eers opgelet as vermis teen die aand, wat vir die honde ongeveer ’n sewe-uur voorsprong gegee het.

Beide die honde is tefies wat met skyfies gemerk is en het ook albei ’n halsband met hul eienaars se kontakbesonderhede op.

Mila kan uitgeken word aan haar pienk halsband. Sy het ’n ligte bruin gesig, ’n ligte bruin en swart rug, wit voorpote met kolle op en ’n bruin stert met ’n wit punt. Sy is ook baie toeganklik.

Luna is effens vetter as haar suster en dra ’n groen halsband. Haar kop is wit en bruin en haar hele stert is wit. Sy het ook wit pote en is bruin en swart agter op haar rug.

“Die honde is soos ons kinders,” het Jonathan Dell aan die HERAUT vertel.

“Enige een wat lief is vir troeteldiere sal die pyn wat hiermee gepaard gaan verstaan.

“Enige persoon wat beagles ken sal weet dat die honde se neuse hul lewens lei, as hulle eers ’n spoor optel gaan hulle met dit.

Volgens Jonathan het sy baas se dogter met die honde groot geword en ag die diere-kinders as haar eie familie, wat die situasie net meer pynlik maak. Die gesin bied ’n beloning van R10 000 aan enige persoon wat die honde veilig na hulle sal terugbring.

“Hierdie honde verenig ons gesin en daarom is ons desperaat om hulle terug te kry, maar ons bid en glo dat hulle veilig en in liefdevolle hande is,” het hy gesê.

“As ons mede-gemeenskapslede op die uitkyk kan wees vir die honde sal ons ewig dankbaar wees.”

Mila is vroeër vandeesweek in Vanderbijlpark gesien.

Indien enige persoon die honde opspoor kan hulle die volgende persone kontak:

• Jonathan Dell by 081 535 7715

• Andreas Eracleous by 083 451 5654

Teen druktyd was die honde nog nie opgespoor nie.

Exit mobile version