‘Skoonheid kom van binne,’ sê Ralie Kapp ambassadeur van Ultimate Models

Ralie Kapp (30), ’n gebore Heidelberger, is die naweek van 31 Julie as die ambassadeur, skakelbeampte en stem van Ultimate Models aangewys.

Met meer as 97 600 stemme het sy as wenner weggestap en ook as model van die jaar gekwalifiseer. Ralie is deeltyds model en is ook bekend vir haar deelname aan liggaamsboukompetisies, waar sy groot sukses behaal het.

Nadat sy ma geword het en haar liggaam verander het, het sy besef wat werklike en opregte skoonheid is.

“Ek was gewoond aan liggaamsbou waar daar van vroue verwag word om ’n sekere manier te lyk en ’n sekere gewig te weeg. Maar ek het geweet dat elke vrou spesiaal is en dat daar platforms is waar elkeen se uniekheid en innerlike skoonheid raakgesien kan word en nie net hoe jy uiterlik lyk nie,” het Ralie vertel.

Ultimate Models se visie is om die modelwêreld vir die vrou te verander en om ’n geleentheid te skep om haar drome te volg.

Ralie Kapp wil haar rol as ambassadeur van Ultimate Models gebruik om die innerlike skoonheid van vroue te beklemtoon.

Modelle reg oor Suid-Afrika het ingeskryf. Ultimate Models is ’n virtuele en aanlynplatform waar die hoofdoel is om modelle te ontwikkel en te laat groei sodat hulle hul doelwitte en aspirasies kan bereik.

Die platform kyk nie net na die gereelde modelleringsaspekte nie, maar waag ook buite die boks en glo dat ’n model nie net ’n model is nie, maar ’n rolmodel en handelsmerk op sy eie.

Omdat Ralie juis met die visie kon vereenselwig, het sy nie geswyg om in te skryf nie.

“My passie is om ’n insperasie te wees vir vroue om op te hou om hulself te vergelyk en eerder te besef dat God jou gemaak het na Sy beeld.

“Jy is mooi, uniek en goed genoeg ten spyte van wat die wêreld sê,” het Ralie vertel.

Sy het bygevoeg dat sy saam met Ultimate Models die siening van skoonheid wil verander en die platform wil gebruik om elke vrou te lei om haar potensiaal te bereik en om die beste van haarself te word in elke faset van die lewe.

“Die wêreld wil hê jy moet jouself vergelyk, maar God sê jy is uniek. Dit maak nie saak wat jou gewig of kultuur is nie. Daar is ’n koninlikheid in elke vrou wat God geskape het, want Hy het geweet die wêreld het joú nodig.

Ultimate Models wil die innerlike skoonheid van elke vrou beklemtoom en ek sien uit om as ambassadeur hierdie doel te bemeester,” het Ralie gesê.

In haar rol as ambassadeur is sy verantwoordelik om die gesig en stem van Ultimate Models te wees.

Sy moet ook ’n maandelikse opname doen waar sy met vroue praat oor hoe om daardie uniekheid te vind. Verder moet sy ook sorg vir ’n fotosessie elke maand saam met inspirerende vroue.

Toe Ralie gevra is hoekom Vrouemaand gevier moet word, het sy geantwoord dat dit gaan oor hoe om jouself te sien soos wat God jou sien en nie hoe die wêreld wil hê jy moet wees nie.

Ralie Kapp is die naweek van 31 Julie na meer as 97 600 stemme aangewys as die ambassadeur, skakelbeampte en stem van Ultimate Models.

Haar boodskap aan elke vrou is gaan staan voor ’n spieël en sê “Ek is kosbaar, ek is waardevol, ek is genoeg, ek is hooggeag en Jesus het my lief”.

“Be bold, be brave, be beautiful but most importantly be yourself because that is who God wants you to be,” het Ralie mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version