Heidelberg DBV kies nuwe bestuur

Die Heidelberg DBV het op 24 Julie hul algemene jaarvergadering gehou waartydens ’n nuwe bestuurspan gekies is.

Die nuwe komitee is Zanie le Grange (komiteelid), Jacky Franck (sekretaresse), Retha du Plessis (ondervoorsitter), Daniel du Plessis (komiteelid), Petro Coetsee (voorsitter), Sue van der Merwe (komiteelid), Donna Gertenbach (tesourier), Floyd en Elzette van Zyl (opleidingsinspekteure), Sandie Loots (komiteelid), Elrida Cronje (komiteelid), Helay Lund (komiteelid) en Michelle van Wyk (kantoor administrateur).

Tydens die vergadering het Coetsee, wat herkies is tot voorsitter, gesê: “Ons is uiters dankbaar teenoor die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning en donasies wat ons ontvang. Sonder dit sou ons nie oorleef nie. Ons fondsinsamelingsprojekte word ook goed ondersteun.”

Die boekwinkel is gewild en selfs mense van buite die dorp kom besoek die winkel wat deel is van die tak se hoofinkomste. Herwinningprojekte van papier, glas en plastiek is voortdurend en Coetsee het die publiek versoek om veral plastiese proppies te skenk aangesien hul bietjie meer vir dit kry.

“Ons is ook baie dankbaar vir ons borge van ons hokke wat maandeliks bydrae van R100 per hok maak en ook vir elkeen wat ons ondersteun deur elke jaar ons almanak te koop,” het Coetsee gesê.

Die Heidelberg DBV beplan ook weer ’n mark en ’n gholfdag later in die jaar, afhangende van pandemie regulasies.

Heidelberg DBV is agter die Heidelberg Mall geleë en kan by 016 342 4114 gekontak word. Die nommer vir noodgevalle is 071 994 9960.

 

Exit mobile version