Local newsNews

DBV ook geaffekteer deur Covid-19

Die reëls en regulasies rondom vlak vier van inperking het ook ’n effek op welwillendheidsorganisasies soos die DBV.

Die reëls en regulasies rondom vlak vier van die inperking het ook ’n effek op die aanneming van diere en die proses wat gebruik word.

HERAUT het by die DBV gaan hoor hoe die reëls en regulasies hulle affekteer en hoe hul prosesse verander moes word om die Covid-19 maatreëls te akkommodeer.

“Op die oomblik is dit vir ons belangrik om deur die inperking nog oop en operasioneel te kan bly, maar steeds ons DBV werknemers sowel as die publiek te beskerm,” het Petro Coetzee, voorsitter van die Heidelberg DBV, gesê.

“Ons het dus besluit om veranderinge te maak om te verseker dat ons, ons deel kan doen om die virus te bekamp.
“Ons ure is steeds van 08:00 tot 15:00, maar ons maak eers oop vir die publiek vanaf 11:00. Ons boekwinkel is dus ook dan eers beskikbaar. Ons het op verskeie plekke aangedui dat die publiek te alle tye hul maskers moet dra sowel as ontsmet voor hulle die boekwinkel binnegaan. Ons laat net twee persone op ’n slag in die boekwinkel en net een persoon in die kantoor toe.”

Coetzee het gemeen dat die publiek steeds diere kan besigtig mits ’n afspraak met die kantoor gemaak is.

Die DBV is steeds oop om diere in te neem. Enige persoon van die publiek kan voor die hek stop en die hoeter blaas of die kantoor bel om sodoende die dier af te gee.

“Ons belangrikste doel bly steeds die welstand van diere en alle dieremishandelingsklagtes sal ons steed inspekteer,” het Coetzee gesê.

“Ons gaan wel tot 20 Julie nie uitry om diere wat die publiek sou wou oorteken op te gaan laai nie en vra dus die publiek se bystand hiermee dat hulle eerder die diere inbring na ons perseel toe.

“Vir huisbesoeke vra ons dat die persone by wie ons die besoeke aflê steeds ’n masker dra as ’n lid van die DBV inspeksie aflê.

“Ons werknemers sal die inspeksie aflê met ’n masker ten alle tye aan. Elkeen van ons lede het ook beskiking tot ontsmettingsmiddels en sal voor en na die inspeksie hulle hande ontsmet.”

Volgens Coetzee het die DBV vanaf die eerste week in Julie sewe honde ingekry wat aan hulle oorgeteken is.

“Enige donasies sal altyd verwelkom word, maar ons grootste behoefte tans is katsand,” het Coetzee gesê.

“Die pandemie raak almal en dis nie ’n maklike proses om op die punt te kom om jou troeteldier oor te teken nie.

“Ons wil graag dankie sê aan die publiek vir hulle getroue ondersteuning en bystand. Daar gaan nie ’n week verby wat ons nie ’n vorm van donasie ontvang nie. Ons is baie geseënd met die Heidelberg gemeenskap.”

Related Articles

Back to top button