‘Ons voel klaar tuis in Nigel’

Dominee Jaques en sy gesin het vanaf Marble Hall verhuis en bly tans in Springs.

Die AP Kerk in Nigel het in April ’n nuwe dominee gekry.

Ds Jaques Boonzauer en sy gesin woon in Springs, maar beoog om in die toekoms na Nigel te verhuis.

HERAUT het by Boonzauer en sy vrou, Mientjie, gaan kuier om meer oor hulle te wete te kom.

“Ons kom vanaf Marble Hall,” het Jaques vertel. “Dit het amper die aanpassing na die nuwe dorp en omgewing makliker gemaak, vanweë dieselfde tipe plattelandse dorp gevoel.

“Die mense hier in Nigel het die groot aanpassing vir ons baie maklik gemaak.

“Ek dink al wat regtig vir ons ’n effense skok was, was die verskil in temperatuur. Daar bo in Marble Hall trek ons warm klere aan as dit 20 grade is.”

Mientjie beoog om binnekort ’n boekhoubesigheid oop te maak.

“Dit is gemaklik hier,” het Mientjie vertel.

“Die mense is vriendelik, behulpsaam en ontvanklik.”

Jaques het vertel dat hy voorheen in die weermag was saam met sy vrou, waarna hy vir ’n tyd vir sy pa gewerk het voordat hy besluit het om te gaan studeer.

“Ek het einde November begin met bediening en kort daarna was ek beroep tot Nigel. Op 18 April was ek bevestig tot die gemeente,” het Jaques vertel.

Jaques en Mientjie het twee seuns van 17 en 14 wat by Hoërskool Hugenote in Springs skoolgaan.

Die egpaar se boodskap aan die gemeenskap is gevestig in Hebreërs 10:25-28.

“Die kerk is die liggaam van Christus,” het Jaques gesê. “Ons gemeenskap moet tot die besef kom dat die kerk en die gemeenskap saam in Christus is.

“Ons moet mekaar vermaan en inspireer om kerk toe te kom en die Here te dien sodat ons soos een stem in een geloof kan wees.”

Exit mobile version