Local newsNews

Klipkerk ontvang erfenisplaatjie

Die Klipkerk word as een van Heidelberg se bekendste ikone beskou en met ’n kerkgebou wat meer as 130 jaar oud is, is ’n blou erfenisplaatjie ook aan die kerk op 18 Junie toegedien.

Die eerste kerk van die Nederduitse Gereformeerdes was ‘n kruiskerk, wat gestaan het waar die parkeerterrein vandag is. Die NG en NH-kerke het in 1888 verenig, wat toe bekend gestaan het as die Verenigde Kerk. Baie geskille het ontstaan en ’n nuwe kerkplan wat die sloping van die ou Kruiskerk, eienaarskap en die benaming van die nuwe kerk behels, is in 1889 vir 800 mense goedgekeur.

Argitekte was Brislen en Veale. Die hoeksteen is op 12 April 1890 deur kommandant-generaal PJ Joubert gelê en die inhuldigingsdiens het op 13 Maart 1891 plaasgevind.

Met die verdeling van die dele van die Verenigde Kerk was dit nodig om die eiendomme te skei en elke groep hul billike deel te gee. Die situasie het taamlik kontroversieël geword. Geen ooreenkoms was moontlik nie en selfs Paul Kruger het nie daarin geslaag om te arbitreer nie. Maar dis uiteindelik in 1897 in die hooggeregshof geskik om die Klipkerk-gebou toe te ken aan die Verenigde Kerk en die pastorie aan die NH.

Jaco Kritzinger van LCC en Jane Scott van Centered Secrets het saam gespan om die blou erfenisplaatjie van die Klipkerk te borg.

Die ouer Kruiskerk wat nog gestaan het was nie in die uitspraak genoem nie en is in 1898 gesloop. Sedertdien is dit die eiendom van die NG Kerk.

’n Vreemde ontwikkeling was dat die predikant van die Verenigde Kerk, NJ van Warmelo, wat in 1867 as NH-predikant na Heidelberg gekom het, by die Verenigde Kerk gebly het, maar sy vrou en dogters het by die wegbreekgroep aangesluit, met haar orrelis.

Ds Nicolaas van Warmelo, het vanaf Holland gekom en aanvanklik die kerk in die Soutpansberg bedien. Hy was in 1868 beroep tot predikant van die Hervormde Kerk in Heidelberg.

Van 1885 tot sy dood in 1892 was hy die predikant vir die Verenigde Kerk. Hy het gesterf toe hy probeer het om die twee kerke te herenig.

Na sy dood het sy vrou geweier om van die pastorie af te trek en moes ’n nuwe huis vir die nuwe dominee, Ds AJ Louw, gebou word. Sy het daar nog 10 jaar gebly.

Na die Boereoorlog is die kerk se kelder as laerskool gebruik.

Die Klipkerk gebou is meer as 130 jaar oud.

Die toring het in 1909 ineengestort. Dit het ’n paar uur nadat Louw en van sy kerkraadslede in die toring op was om ’n paar barste wat verskyn het, te ondersoek, gebeur. Die oorsaak van die ineenstorting is geïdentifiseer as slegte vakmanskap en drie dae se aanhoudende reën.

’n Nuwe toring is in 1911 deur JD Kestell gebou en ingewy.

In 1954 is die kerk opgeknap en het die aantal sitplekke toegeneem deur ’n sitplekgalery by te voeg. Die klipkansel is vervang deur ’n kleiner houtkansel. Die klipkansel is by Hoër Volkskool.

Die naam Verenigde Kerk was nog ’n geruime tyd gebruik tot 1959, waar ’n klipplaat in die ingangsportaal die hernoeming van die kerk aangedui het.

Met ’n brand in 1967 was ernstige skade aan die binnekant aangerig. ’n Nuwe orrel is opgerig en die buitekant van die gebou is ook opgeknap.

Die kerkgebou was in 1969 deur die Historiese Monumentekommissie tot ’n historiese gedenkwaardigheid verklaar.

In 2018, na ongeveer 50 jaar wat die klok nie gewerk het nie, het ’n Duitse toeris ’n skenking gemaak om die horlosie en die klok te herstel.

Die sewende blou erfenisplaatjie is op 18 Junie by die Klipkerk opgerig.

Die erfenisplaaatjie vir die Klipkerk is deur Lesedi Care Centre (LCC) geborg.

“Die Klipkerk is so ’n bekende en geliefde plek in ons dorp en dit is vir ons ’n voorreg om die plaatjie te borg,” het Jaco Kritzinger, LCC bestuurder, gesê.

Brenda Scott het vertel van haar liefde vir die gemeenskap en opheffingsprojekte in die dorp. Haar plaasike besigheid, Centered Secrets, het ook gedeel in die erfenisplaatjie deur ’n donasie aan LCC te maak vir die borgskap.

Met die hulp van die gemeenskap, gemeentelede en toegeweide bestuurspan word die kerk in stand gehou. Onlangse herstelwerk aan die kerk se dak is op 12 Junie voltooi.

Related Articles

Back to top button