Local newsNews

Oosrand Sakekamer skenk aan dagsorgsentrum

Masicedane Helpmekaar Klub het op 14 Junie ’n skenking van die Oosrand Sakekamer ontvang.

Die Oosrand Sakekamer het op 14 Junie by die Masicedane Helpmekaar Klub vir gestremdes ’n draai gaan maak om ’n skenking te oorhandig.

Die klub in Heidelberg is ’n instansie wat dagsorg verskaf aan verstandelike en/of fisies gestremde volwassenes.
“Die dagsorgsentrum is afhanklink van die gemeenskap nou meer as ooit,” het Frik van Niekerk van die Helpende Hand Heidelberg-tak vertel.

“Veral met die nuutste Covid-19 inperking regulasies wat dit vir die sentrum moeilik maak om enige fondsinsameling projekte aan te bied.”

Christine Kruger, direkteur van Masincedane Helpmekaar Klub, het gesê: “Die sentrum sou op 4 Junie ’n gala-aand hou, met die sanger Appel as gaskunstenaar, maar soos die gemeenskap weet moes dit verander word na ’n aanlyn, virtuele konsent op 18 Junie.

“Ons is so dankbaar vir elke skenking en ekstra hulp wat die gemeenskap vir ons bied.”

Helpende Hand Heidelberg-tak het as gevolg van die terugslag ’n vorige borgskap wat bedoel was vir die gala-aand in ’n skenking aan die dagsorgsentrum verander.

Van Niekerk het ook te werk gegaan om besighede en ander belangegroepe uit te daag om hulp aan die sentrum te bied.

“Lindie van der Walt van die Oosrand Sakekamer het my gekontak rakende die skenking wat hulle wou maak,” het Van Niekerk gesê.

“Daarom het ek haar vergesel na die dagsorgsentrum sodat sy die sakekamer se skenking in persoon kon oorhandig.”

Frik van Niekerk en Christine Kruger saam met inwoners van die Masincedane Dagsorgsentrum tydens die oorhandiging.

Van der Walt het ook koekies aan die inwoners van die dagsorgsentrum geskenk.

Die Oosrand Sakekamer het ’n skenking van R10 000 aan die dagsorgsentrum gemaak.

“Ons wil graag rolspelers in Heidelberg en die gemeenskap uitdaag om te help,” het Van Niekerk namens Helpende Hand gesê.

“Dit is ons plig om ons medemens te help.”

Vir verdere inligting, kontak vir Van Niekerk by 079 220 5555 of stuur ’n e-pos na vanniekerkfrik1@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button