Tweede plek vir Nielette en Blokkies met skouspring

Nielette Jansen van Vuuren en haar perd, Blokkies, het aan die skouspring kompetisie op Saterdag deelgeneem.

Nielette Jansen van Vuuren (11) en haar perd, Waaksaam Blok (Blokkies), het op 5 Junie vir Laerskool Tini Vorster by die Senesa Qualifier Three in Kyalami gaan verteenwoordig.

Die perdry kompetisie was by Eaton Farm aangebied.

Nielette, wat ’n graad ses leerder aan Tini Vorster is, het aan drie dissiplines deelgeneem.

In die 60cm skouspring dissipline het sy en Blokkies ’n tweede plek behaal.

Die ruiter en perd het daarna in die 60cm spoedklas en ruiter vermoë onderskeidelik ’n vierde plek behaal.

“Sy was verbaas toe sy haar tye hoor,” het Elize van Vuuren namens haar dogter vertel.

Nielette Jansen van Vuuren en haar perd Blokkies.

“Blokkies het sommer ’n hele sak wortels na die mooi vertoning verdien.”

Nielette ry al perd vandat sy vyf jaar oud is en word afgerig deur Kristen Winn by Winstead Stables in Springs.

“Nielette was ongelooflike trots op Blokkies,” het Elize gesê.

“Sy het gevoel dat hy meeste van die werk gedoen het en dat sy hom net die volgende spring kon wys en hy het voluit gegaan.

“Sy is ook dankbaar vir Kristen en haar span by die stalle wat so mooi na Blokkies omsien en sorg dat hy altyd gelukkig en skou-gereed is.”

Laerskool Tini Vorster het op Facebook hul trots op Nielette se prestasie uitgespreek.

Nielette Jansen van Vuuren en Blokkies het ‘n tweede plek verower in die 60cm skouspringdissipline.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version