Local newsNews

Groot sukses by Nigel se nuwe kunsgallery

HERAUT het in die 11 November 2020 uitgawe vertel van Nita Alberts van Nigel wat as borskankeroorwinnaar 'n geselligheid saam met mede borskankeroorwinnaars gehou het ter viering daarvan.

HERAUT het weer by Nita gaan kuier, die keer tydens die opening van haar kunsgallery wat op 28 Mei die eerste uitstalling aangebied het.

Nita, wat in remissie is, het in Mosselbaai vakansie gaan hou en by The Pink Hound, ‘n informele kunsgallery, gaan inloer. Dit was daar waar die gedagte posgevat het om skryfbehoeftes en kunsbenodighede met ‘n informele kunsgallery te kombineer.

Nita het vertel van haar dogter wat altyd verwys het na ‘stacks of stationery’ as sy skryfbehoeftes nodig gehad het, en so het sy op die naam Staxx gekom.

Celia van Niekerk is ‘n kunstenaar en inwoner van Nigel en het ook by Staxx uitgestal.

“Baie beplanning en baie gebede het Staxx tot stand gebring en ons kan met groot dankbaarheid sê dat die Here Staxx nog elke dag seën,” het Nita vertel.

Gebasseer op die aantal kunstenaars wat by die eerste uitstalling uitgestal het, plaaslike besighede wat kom ondersteun het en die mense wat dit bygewoon het, was dit ‘n reuse sukses.

Gaste is by Staxx se eerste kunsuitstalling op 28 Mei verwelkom met vars geroosterde koffie van ‘n plaaslike koffie roostery wat die uitstalling ondersteun het.

“Een van ons grootste doelwitte is om kunstenaars soveel as moontlik blootstelling te gee. Om as kunstenaar ‘n lewe te probeer maak, is uitdagend en om waarde aan die tyd te probeer koppel wat dit neem om ‘n kunswerk te voltooi, is amper onmoontlik,” het Nita gesê.

“Ek woon die afgelope 20 jaar in Nigel en skilder vir 15 jaar. Om deel te wees van Nita se droom en by Staxx uit te stal is ‘n voorreg en ons dorp het dit nodig,” het Margaret Dantu, ‘n skildenaar, vertel.

Nita Alberts en haar man Wikus het gaste bedien terwyl hulle die kunswerke op uitstalling aanskou het.

Staxx bied ook informele kunsklasse aan en sal later die jaar met formele klasse begin. Wat is ‘n kunsuitstalling sonder ‘n versnappering of iets om die keel nat te maak?

Die gaste was verwelkom met geure van vars geroosterde koffie van Cuppa Coffee Roasters, ‘n plaaslike koffie roostery in Nigel.

“Dit is vir ons belangrik om ons dorp se besighede te ondersteun en om deel te wees van die kunsgallery se bekendstelling was ‘n eer,” het Thinus Greyling, eienaar van Cuppa Coffee Roasters, gesê.

Die kunstenaars egpaar, Roux en Susan Fourie, by van hulle werke wat uitgestal was tydens Staxx se eerste kunsuitstalling.

Gaste kon die kunswerke van onder andere Celia van Niekerk, die kunstenaars-egpaar Roux en Susan Fourie, Martie Pretorius en Tobie van Eck aanskou.

Jan Cronje se wilde diere kunswerke het koppe laat draai. Jan, wat ook bekend is as skrywer en liedjieskrywer, het gesê: “Nigel is ‘n klein dorp en dit is lekker dat ons mekaar kan ondersteun.”

Jan Cronje en Nita Alberts by een van Jan se wilde diere kunswerke wat hy op 28 Mei by Staxx uitgestal het.

Terwyl die gaste die kunswerke aanskou het, was hulle bedien deur Nita, haar man Wikus en haar ma Ria se gasvryheid.

“Ons is dankbaar dat die aand so ‘n sukses was en sien uit na wat die toekoms vir ons gaan skilder,” het Nita die aand afgesluit.

Kunsbenodighede, kunsklasse, kunswerke en skryfbehoeftes, alles onder een dak is die droom van Nita Alberts wat waar geword het.
Margaret Dantu was ook een van die kunstenaars wat haar werk uitgestal het by Staxx se kunsuitstalling.

Related Articles

Back to top button