Local newsNews

Dassie toer in enjin, DBV tot die redding

Die dassie het al die pad vanaf Dikhololo na Heidelberg getoer.

HEIDELBERG – ’n Gesin van Heidelberg het onlangs onwetend ’n ongewone besoeker saam met hulle huis toe gebring toe hulle op 9 Mei terug gekeer het van die Dikhololo vakansieoord in die Noordwes.

Elzette van Zyl, ’n leerder inspekteur van die Heidelberg DBV, het op dié dag ’n oproep ontvang nadat ’n dassie in die enjin van die gesin se motor beland het en al die pad saam gery het na Heidelberg.

Toe die gesin tuiskom en die voertuig in die motorhuis parkeer het die dassie geskarrel om weg te kom en ’n wegkruipplek in die motorhuis gaan soek.

LEES OOK:

Neem ‘n dier aan by die Heidelberg DBV

“Ek was by my huis in Boksburg toe ek die oproep ontvang het,” het van Zyl vertel.

“Ek het die mense gevra om die dassie in die motorhuis toe te hou totdat ons by hulle kon uitkom.”

Van Zyl en Edgar Mholongo, ’n helper by die DBV, het met die nodige toerusting by die huis opgedaag om na die dassie te soek.

“Die motorhuis was nie baie groot nie, maar dit was tog moeilik om die ratse dassie vas te keer en in ’n hok te kry,” het van Zyl verduidelik.

“My grootste vrees was dat die dassie se pootjies dalk in die enjin gebrand het, aangesien dit gewoonlik gebeur wanneer ’n dassie so in ’n enjin wegkruip.

“Maar gelukkig vir die dassie het dit ongedeerd daaruit gekom. Byna ’n uur nadat ons daar aangekom het, was die diertjie veilig.”
Dit is daarna na die DBV se perseel geneem.

“Ek moes die dassie na die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital neem, waarna dit vir nog ’n rukkie by ons gekuier het.”

Die kuiergas is op 13 Mei afgehaal om weer op Dikhololo vrygelaat te word.

Related Articles

Back to top button