Katarakte kortwiek nie renjaer

Na ‘n suksesvolle prosedure om katarakte te verwyder, kon van Zyl weer voortgaan met sy wedrenloopbaan.

Die gesoute renjaer Fred van Zyl (77) was vroeër vandeesmaand nog onseker oor sy toekomstige deelname aan wedrenne, weens die feit dat hy katarakte begin ontwikkel het.

Goeie nuus is dat hy die katarakte laat verwyder het en met alle mag kan voortgaan met sy wedren loopbaan wat al oor jare strek.

“Ek is dankbaar om terug in die stoel te wees,” het van Zyl vertel.

“Ek is ook dankbaar vir my skoonseun, Hennie Mostert snr, wat daartoe bygedra het dat my oë reggemaak kon word.”

Van Zyl het op 17 April deelgeneem in die twee-liter klas van die RTP- streekwedren naby Bronkhorstspruit.
“Ek het die mense se ore van hul koppe af gery,” meen van Zyl.

“Dit was ‘n goeie dag.”

Van Zyl het tydens die eerste wedren in die B-klas ‘n eerste plek verwerf en was ongeveer twee minute en 18 sekondes voor die persoon wat tweede gekom het.

Tydens die tweede wedren in die A-klas, het van Zyl ‘n tweede plek behaal en was slegs drie sekondes agter die persoon wat eerste plek behaal het. Van Zyl se kleinseun, Hennie Mostert jnr (22), het ook vroeër die maand aan ‘n nasionale motorsport kompetisie in Delmas gaan deelneem.

Fred van Zyl het vroeër vandeesmaand ‘n prosedure om die katerakte te verwyder ondergaan.

“Hennie het bietjie slegte geluk getref by die kompetisie,” het van Zyl vertel.

“Op die eerste dag van die kompetisie was hy nog tweede toe hy twee pap wiele gekry het. Op die tweede dag het dit nie veel beter gegaan toe hy al vyf wiele verloor het en groot teëspoed met sy enjin gehad het.
“Ongelukkig moes hy toe uitval,” het van Zyl gesê.

Mostert sal weer in die volgende nasionale kompetisie op 4 Junie by die Carousel wedrenbane deelneem.

Exit mobile version