Local newsNews

Helpende Hand Heidelberg-tak skenk botterskorsies

Unieke omstandighede het vir Helpende Hand Heidelberg-tak die geleentheid gebied om die dagsorgsentrum vir gestremdes te help.

Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak het onlangs by die lede van Masincedane Helpmekaar Klub vir gestremdes gaan inloer en sakke vol botterskorsies aan die dagsorgsentrum gegee.

“Ons het die botterskorsies ontvang na ’n vragmotor by die N3 weegbrug buite Heidelberg voorgekeer is,” het Frik van Niekerk, voorsitter van die tak, vertel.

“Verkeerspolisie het ons ontbied toe hulle gesien het dat die vrag van botterskorsies die maksimum toelaatbare gewig van die voertuig oorskry het.

“So kon Helpende Hand die sakke skorsies wat oortollig was kry, met die doel om dit in die gemeenskap te gaan versprei.”

Die grootste gedeelte van die botterskorsies is onder van die ander Helpende Hand takke in die Oosrand verdeel, waarna die Heidelberg-tak die res in Heidelberg kon versprei.

Van Niekerk het dus Masincedane Helpmekaar Klub, ’n dagsorgsentrum vir gestremdes, benader.

“Ons is baie dankbaar vir Helpende Hand se skenking,” het Christene Kruger, die direkteur van die klub, gesê.
“Ons gaan die botterskorsies gebruik om heerlike sop vir ons lede te maak.”

Solidariteit Helpende Hand se fokus is daarop gemik om die Afrikaner armoedekrisis te stuit en het so ’n verskeidenheid van projekte reg oor die land wat daarop gemik is om die krisis te verlig.

Sowat 80 persent van die organisasie se tyd en bronne word aan die voorkoming van armoede bestee, terwyl die ander 20 persent tussen die verligting van armoede en die verbreking van die armoedekringloop verdeel word.

“Ons beoog om vir Masincedane Helpmekaar Klub voorts te help met plant skenkings vir die tuin wat hulle by die sentrum wil skep,” het van Niekerk uitgebrei oor die tak se toekomsplanne.

“Ons wil ook hulle verder ondersteun met ’n gala aand in Mei. Dus vra ons ook van die gemeenskap om ons te help met enige skenkings van opvoedkundige speelgoed.

“Ons benodig altyd vrywilliges om by ons aan te sluit en te help om die gemeenskap te dien en by te staan. Ons verwelkom enige persoon wat so as vrywilliger wil aansluit om ’n verskil te maak.”

Vir meer inligting oor hoe om by Helpende Hand se Heidelberg-tak aan te sluit, kontak vir Frik van Niekerk by 079 220 5555 of stuur ’n epos aan vanniekerkfrik1@gmail.com

Frik van Niekerk (middel), voorsitter van die Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak, saam met twee van die lede van die Masincedane Helpmekaar Klub vir gestremdes.
Christene Kruger (links), die direkteur van die Masincedane Helpmekaar Klub in Heidelberg, saam met Rosa Biggs, die ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button