Geel skynsel in water van geen kommer vir Nigel

Die Stad van Ekurhuleni se departement vir water en sanitasie het op klagtes van ’n geel skynsel in Nigel se water gereageer.

Inwoners van Nigel het onlangs ’n geel skynsel in hul drinkwater begin opgemerk, en die klagte deur gegee aan rdl Wollaston Labuschagne, die DA raadslid vir Nigel Wyk 88, wie op sy beurt die saak aan die Stad van Ekurhuleni se departement vir water en sanitasie oorgegee het.

Labuschagne het ’n verslag rakende die saak vanaf die departement ontvang.

Werknemers van die departement het op die klagtes gereageer, waarna watermonsters by vier van die klaers geneem is.

Die watermonsters is geanaliseer en het egter aan die Stad van Ekurhuleni, sowel as die Drink Water Standaarde (SANS 241) voldoen, en is dus veilig vir menslike inname.

Die departement het ook met Rand Water gekommunikeer en versoek om verdere ondersoek in te stel rakende die effense verandering in die water se kleur.

Terugvoer vanaf Rand Water het daarop gedui dat die verandering plaasgevind het omdat die Vaaldam vinniger vol geloop het, wat ’n hoë konsentrasie organiese lading tot gevolg gehad het.

Die gebeurtenis het in wese die geel skakering in die water veroorsaak en is tannien residu.

Alhoewel die geel skynsel in die water nie esteties aangenaam is nie, word tannien residu nie as giftig beskou nie en is dus nie nadelig vir verbruikers nie.

Die Stad van Ekurhuleni sowel as Rand Water monitor die water noukeurig om die veiligheid van verbruikers te verseker.

Exit mobile version