Local newsNews

Bokslegende en evangelis Jimmy Abbott sterf aan hartversaking

Jimmy Abbott (61), 'n voormalige swaargewig bokskampioen, rofstoeier en evangelis, het op 21 Maart by sy huis in Heidelberg aan hartversaking gesterf.

Jimmy het sy beroepsboksloopbaan in 1978 in Bloemfontein begin. In 1979 was sy uitklopoorwinning in die derde rondte teen bekwame Amerikaner Dave Johnson tydens die voorgeveg tussen John Tate en Suid-Afrika se Kallie Knoetze ’n hoogtepunt.

Hy het die destydse Wes-Transvaal verteenwoordig en was onder andere bekroon met die Suid-Afrikaanse Amateurboksvereniging se merietekleure en ’n Springbokbaadjie.

Bokslegende, rofstoeier en evangelis Jimmy Abbott is op 21 Maart aan hartversaking oorlede.

Hy het egter met sy gewig gesukkel wat hom dwarsdeur sy loopbaan geknou het. Jimmy en sy vrou, Annette, was 17 jaar getroud en het die afgelope 11 jaar in Heidelberg gewoon.

“Jimmy was almal se held. Die groot man met die klein hartjie. Hy was baie lief vir die Here en het altyd vir mense gebid oral waar hy gekom het,” het Annette vertel.

In Desember 1995 was hy in Newlands, Johannesburg, as pastoor ingehuldig. Hy het later sy eie evangelisasie organisasie, Jimmy Abbott Ministries, begin.

Jimmy het vanaf 2013 erg begin sukkel met sy gesondheid. Na ’n beroerte en drie hartaanvalle het hy hom ernstig daartoe toegewy om gewig te verloor.

Jimmy Abbott se grootste passie was vir sy evangeliesasie werk. Hier is hy tydens ’n diens as pastoor saam met sy vrou, Annette.

Hy het deelgeneem aan kykNET-program Slank wat tans uitgesaai word en het met sy laaste weeg 25kg verloor.
Jimmy was drie weke gelede deur ’n vioolspinnekop gebyt. Op pad hospitaal toe, het hy geval en sy knie beseer. Hy het na sy besering nog 15kg verloor. Die aand van 21 Maart het Jimmy begin asemnood kry en nooddienste was ontbied. Hy is omstreeks 8.40nm by sy huis oorlede aan hartversaking.

“Ek sal Jimmy onthou as ’n hartsmens wat lief was vir mense en mense was lief vir hom. Sy grappies oor hom, Mike Schutte en Kallie Knoetze waarvoor hy so uit sy maag gelag het, sal altyd by my bly,” het Annette gesê.

Jimmy was ’n lojale ondersteuner van die Leeus-rugbyspan en is dikwels by Ellis Park raakgeloop. Behalwe vir sy liefde vir sport, het hy dit ook geniet om vis te vang.

Jimmy is deur SuperSport beskryf as een van Suid-Afrika se beste swaargewig boksers.

“Jimmy se grootse passie was sy evangelie werk. Sy plek is leeg langs my, maar ek weet hy is veilig by onse Hemelse Vader,” het Annette gesê.

Jimmy se begrafnisdiens het op 25 Maart plaasgevind. Die diens was ook oor Overvaal Stereo 96.1FM uitgesaai.

Jimmy Abbott was ’n lojale ondersteuner van die Leeus-rugpyspan en is gereeld by Ellis Park opgemerk.

Related Articles

Back to top button