Local newsNews

Jurassic Carp Visvangklub moedig visvang aan

Quintin Joubert en sy gesin hoop om die mense van Nigel aan te moedig om meer gereeld by Nigeldam te gaan visvang.

NIGEL – Die Jurassic Carp Visvangklub is onlangs op die been gebring en bestaan uit 15 lede.

Die klub maak ’n punt daarvan om een keer per maand by verskillende damme en riviere landwyd bymekaar te kom en lyne nat te maak.

Quintin Joubert (32), ’n lid van die klub, het die gemeenskap van Nigel aangemoedig om by die klub aan te sluit.

’n Gunsteling visvangplek vir Quintin en sy gesin is die Nigeldam, en hy het ook hengelaars aangemoedig om meer gereeld by die dam te gaan visvang.

“Ons het al baie stories gehoor van die Nigeldam, wat oënskynlik groot visse huisves,” het Joubert gesê.

“So het ons ook besluit om daar te gaan vang en was aangenaam verras met die hoeveelheid en die grootte van die visse wat ons daar gevang het.”

Joubert meen dat hy en sy gesin, wat almal ook graag visvang, gereeld by die dam vang en dat hy veral baie in sy noppies was met ’n 17.2kg karp wat daar uitgetrek is.

Joubert se seun, Coenrad (7), het op ’n dag onderskeidelik ’n 11kg spieëlkarp en ’n 15.4kg karp gevang.
Joubert het op dieselfde dag self ’n 15kg spieëlkarp uitgetrek.

Sy vriendin, Jackie Stingling (39), het verlede jaar ’n karp van 16kg by die dam gevang.

“Ek het ook al baie van my vriende genooi om saam te kom vang, en hulle was oor die algemeen baie beïndruk met die vis wat hulle uitgetrek het.”

Joubert het die hoop uitgespreek dat meer mense by die dam sal gaan visvang en sodoende die dam aan die lewe sal hou en sal beskerm teen visstropery, wat wel voorkom.

Coenrad geniet dit om saam met sy pa, Quintin Joubert, vis te vang en waneer hy ’n grootte, soos dié karp in die foto kan uittrek, is hy baie trots.
Quintin Joubert met ’n bielie van ’n karp wat hy by die Nigeldam gevang het.
Jackie Stingling (links), Coenrad Joubert en sy pa, Quintin, durf selfs op reënerige dae die viswaters aan.

Related Articles

Back to top button