Local newsNews

SAVF Nigel-tak dien steeds die gemeenskap

Die Nigel-tak van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie vier vanjaar sy 86ste bestaansjaar.

NIGEL – Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) staan al vir jare bekend vir hul welwillendheid en diens aan gemeenskappe landswyd.

So ook doen die SAVF Nigel-tak hulle deel, en vandeesmaand spog die klub boonop met sy 86ste bestaansjaar.
Die verskeie takke regoor die land beywer hulself elk met een of ander projek of diens waarmee hulle sodoende hul gemeenskappe kan dien.

Dit wissel van die versorging van bejaardes of om fondse in te samel vir kinderhuise, om net twee voorbeelde te noem. Deur hierdie dienslewering leef die organisasie sy doel uit.

Die Nigel-tak spits hom daarop toe om kospakkies aan minderbevoorregtes uit te deel.

Dus maak die tak staat op vrywilligers, donasies en skenkings van allerlei kos-soorte om die gemeenskap mee te kan dien.

Na afloop van die tak se onlangse maandelikse vergadering het die groep skouer aan die wiel gesit om die kospakkies te pak en gereed te kry.

Die kospakkies is die daaropvolgende dag aan die gemeenskap uitgedeel.

“Ons is bevoorreg om só die gemeenskap te kan dien,” het ds Chris Engelbrecht, die tak se voorsitter, gesê. “Maar ons kon dit nie sonder die gemeenskap se hulp doen nie.”

Die tak het ook verlede jaar tydens die grendeltydperk bankvas bly staan en sonder mislukking kospakkies uitgedeel.

“Ons wil ook dankie sê aan elke persoon wat ’n bydrae gemaak het tot die kospakkie-dag, of dit nou ’n donasie was en of dit fondse was om die kospakkies op die dag te kon uitdeel,” het Engelbrecht gesê.

Die tak is egter steeds oop vir vrywilligers om aan te sluit.

Vir enige verdere navrae kontak vir Ina Els by 072 240 0078.

Piet en Meisie Marais (links) oorhandig ’n kospakkie aan Raylene Coetzee saam met ds Chris Engelbrecht en Wilna St James.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button