Afsterwe van geliefde egpaar laat leemte

De Jager het sy 90ste verjaarsdag in die hospitaal gevier en is 'n week na sy verjaarsdag oorlede.

HEIDELBERG – Daar is Saterdag 6 Maart finaal afskeid geneem van ’n gesiene en geliefde egpaar wat oor vele jare diep spore in die dorp getrap het.

Ds Lourens de Jager (90) was vir amper 30 jaar leeraar by die NG Kerk Suikerbosrand gemeente.

Hy en sy vrou, Ray (84), is slegs enkele dae uitmekaar oorlede weens Covid-19-verwante komplikasies.
Lourens het op 9 Februarie 90 geword en is op 16 Februarie oorlede, Ray is ‘n paar dae voor hom op 6 Februarie oorlede.

Die egpaar was 34 jaar getroud. Hulle het in die kerk ontmoet waar Lourens in ’n brief vir Ray gevra het om te trou. Sy eerste vrou, Beryl, is oorlede aan leukemie.

Die egpaar het nooit saam kinders gehad nie.

Lourens was ’n geliefde dominee en sy kleindogter, Zelmé, het vertel van die mooi herinneringe van haar oupa op die kansel.

“Elke persoon wat my geskakel het, terwyl ons die begrafnis gereël het, het vertel van die impak wat my oupa op hul lewens gehad het. Hoe hy geleef het vir sy roeping as leeraar en dat hy nooit te besig was om enigiemand te help nie.”

Ray word vanuit ’n vorige huwelik deur haar twee seuns en twee kleinkinders oorleef. Lourens word vanuit ’n vorige huwelik deur sy drie kleindogters en agter-kleinkind oorleef.

“Ons oupa was nie net ons oupa nie. Hy was ons anker, ons guiding light, ons mentor, ons raadgewer, en mees belangrik, die een persoon in hierdie wêreld wat vir ons drie sussies onvoorwaardelik lief gehad het,” het Zelmé gesê.

Sy het namens haar twee susters gesê: “Ons oupa was ’n man van God. Vir hom was dominee wees nie ’n beroep nie, maar ’n roeping, en hy het elke dag sy lewe geleef in God se voorbeeld.”

Ray se seun, Christo Viljoen, en sy vrou, Suzette, het vir die laaste vier jaar ’n oog oor die egpaar gehou en hulle versorg waar hulle kon.

Alhoewel Lourens nie Christo se eie pa was nie, het hulle hom so aanvaar.

“Pa Lourens was ons anker in geloof,” het Christo en Suzette namens hul gesin gesê.

“Ma Ray was weer pa se anker. Pa se liefde vir enige soet lekkerny en ma wat mens altyd deur ring kon trek sal altyd blywend in ons gedagtes wees. “Pa Lourens het sy lewe in vrede en liefde geleef en Ma Ray het ons op ons tone gehou.”

Ray se ander seun, Harry Viljoen, het namens sy gesin gesê: “Haar liefde vir elkeen van ons was onvoorwaardelik en haar gebede vir ons het nooit opgehou nie.”

Lourens het sy 90ste verjaarsdag in die hospitaal gevier en is ‘n week na sy verjaarsdag oorlede.
Zelmé het gesê: “Ek is dankbaar dat ek en my seun, Noah, daar kon wees vir sy 90ste verjaarsdag.

“Alhoewel ek weet hy 100 sou haal as dit nie vir die virus was nie. Ons sal ’n manier vind om hom te laat gaan, want ons gun hom die ewige lewe, vry van hartseer, pyn en verdriet.

“My oupa was en sal altyd die beste mens wees wat ons die voorreg gehad het om ons oupa te noem.”

LNJ de Jager (snr), Lourens se oupa, is op 31 Julie 1919 oorlede as gevolg van die Spaanse-griep pandemie en net oor die 100 jaar later is sy kleinseun ook oorlede as gevolg van ’n pandemie.

In die familiefoto is (van links) Zelmé Kimble (kleindogter), Ray de Jager, ds Lourens de Jager, Chané Thietz (kleindogter) en haar eggenoot Stefan, Moné de Jager (kleindogter) en Noah Kimble (agterkleinseun).
Exit mobile version