Covid-19 eis nog ’n inwoner

Tania het vertel dat Dennis die mees liefdevolle man, pa en oupa was.

Inwoners van die dorp het Woensdag met skok verneem van die afsterwe van ‘n welbekende en geliefde inwoner van die dorp.

Dennis Pienaar (56) of Dennis de Mennis, soos hy alom bekend was, is net na 4nm in die Suikerbosrand Hospitaal oorlede waar hy in die intensiewesorgeenheid vir Covid-19 behandel is.

Die HERAUT het Donderdag met Dennis se vrou, Tania gesels en sy het hartseer vertel dat sy en haar gesin nog probeer sin maak van die groot verlies wat hulle getref het.

Tania is die eienaar van Property Professionals in Heidelberg en Dennis was die afgelope twee jaar in diens van Titan Global Wheel.

Die egpaar was 23 jaar getroud en het vier seuns Rhuan, De Wet, Christo en Hein, asook ‘n dogter Chanté wat 11 jaar gelede op 20-jarige ouderdom oorlede is.

Volgens Tania was Dennis in Tanzania en met sy terugkeer het hy positief vir Covid-19 getoets.
Hy is op 16 Februarie in die hospitaal opgeneem en Tania het gesê dat hy aanvanklik goed gereageer het op die behandeling.

Op 19 Februarie was sy toestand van so ‘n aard dat hy ontslaan is.

“Dit het regtig goed gegaan met hom, maar toe ons by die huis kom het sy toestand vinnig begin versleg en is hy weer later die selfde dag opgeneem,” het Tania gesê.

Volgens haar is Dennis verlede Maandag in die intensiewesorgeenheid opgeneem nadat sy toestand vinnig agteruit gegaan het.

Tania kon hom Maandag besoek en daar is ook spesiale toestemming aan haar gegee om haar man Woensdag te besoek.

“Ek was Woensdagoggend daar en ek is baie dankbaar dat ek hom kon sien,” het Tania gesê.

“Die hospitaal het my Woensdagmiddag gekontak om weer terug te gaan. Ek het soontoe gehaas maar toe ek daar kom was Dennis reeds oorlede.”

Sy het baie groot lof vir die mediese personeel wat Dennis behandel het.

“Die dokters het my te alle tye op hoogte gehou en die hospitaal personeel was uiters behulpsaam en het met groot deernis na Dennis omgesien.

“Die publiek moet besef dat hierdie mense ook swaarkry. Hulle sien die meeste van die tyd nie gesonde mense by die hospitaal uitgestap nie. Ek het baie groot lof vir elkeen van hulle. Hulle verdien alle eer,” het Tania gesê.

Tania het vertel dat Dennis die mees liefdevolle man, pa en oupa was. Hulle het ook vier kleinkinders.

“Hy het omgegee vir mense en hy het altyd vir my die grond gelyk gemaak sodat ek net vorentoe kon gaan. “Hy het alles vir my gegun, hy was eenvoudig net ‘n man duisend.”

Volgens haar het hy die buitelewe geniet en was hy ‘n avontuurlustige mens.

“Hy gaan ‘n groot leemte in baie mense se lewens laat,” het sy gesê.

Exit mobile version