Local newsNews

Ons Winkel Nigel maak deure oop

Solidariteit se kettingswinkel, Ons Winkel, is ook nou oop in Nigel met die doel om die gemeenskap te dien.

NIGEL – Een van Solidariteit Helpende Hand se gewilde welsynswinkels, bekend as Ons Winkel, het verlede week sy deure in Nigel oopgemaak en gaan poog om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

Esmé Strauss is die eienaar van Ons Winkel Nigel, wat deel is van 80 soortgelyke skenkingswinkels van Helpende Hand landwyd, en sy het ook reeds ’n soortgelyke winkel in Brakpan oopgemaak.

“Ek voel baie bevoorreg om ’n tweede winkel te kon oopmaak,” het Strauss op die dag gesê.

“Ons sien daarna uit om ’n verskil in en om Nigel te maak en verwelkom alle inwoners met ope arms. “Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word – van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene sporttoerusting, en tegnologiese ware,” het Esmé gesê.

Klere, meubels en ander huishoudelike items word as skenkings by die winkel aanvaar.

Die skenkings word aan die gemeenskap teen baie billike pryse verkoop. Die doel agter die winkel is om terug te gee aan die gemeenskap.

“Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word.

“Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik om dit te kan doen nie.

“Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom en dien ook as werkskepping in die gemeenskap,” het Esmé verduidelik.

“Die winkel is in die gemeenskap vir die gemeenskap gestig.”

Ons Winkel Nigel kan by 19 Courtstraat gevind word. Dit is weeksdae van 9vm to 5nm oop en Saterdae vanaf 9vm tot 1nm.

Vir meer inligting of om ’n skenking te maak, kontak vir Esme Strauss by 084 225 9100.

Suzette van Rooyen (links), was saam met haar ma Esmé Strauss by die opening van Ons Winkel Nigel. Alet Robbison van Solidariteit Helpende Hand en winkelbestuurder Jennie Botha was by om die winkel amptelik te open.

Related Articles

 
Back to top button