GALLERY: Volkskool maak harte oop vir Downsindroom-kind

Die gemeenskap se engelseuntjie, Riaan Arnoldi, waaroor Heraut al vele kere berig het, is die jaar agt jaar oud en het sy laerskoolloopbaan by Laer Volkskool begin.

Riaan is in 2013 gebore en op ses maande met Downsindroom gediagnoseer. Riaan se ma, Nicolene, was vasbeslote om haar kind ’n regverdige kans op ontwikkeling te gee, maar aangesien sy nie veel hulp in Suid-Afrika kon kry nie het sy in 2014 met die hulp van die gemeenskap ’n kursus by die Institute for the Achievement of Human Potential in Amerika gaan bywoon. Daar was sy opgelei oor wat om te doen om Riaan se brein te ontwikkel.

“Voor ek Amerika toe is, was Riaan passief. Hy het nie veel beweeg nie en sy spraakvermoë was baie beperk. Ek het daagliks met Riaan deur die leerstukke gewerk. Saam met die spraak-, arbeid- en kinderterapie asook die biokinetikia het Riaan goed ontwikkel en op drie-jarige ouderdom is hy na Pienkie Ponkie Kleuterskool toe,” het Nicolene vertel.

Riaan het ’n au pair/assistent wat saam met hom skool toe gaan en hom bystaan in alles wat hy doen. Hy was oorgeskuif na Graad RR voor Covid-19 in 2020 en moes die jaar met Graad R begin.

“Ons wou Riaan by ’n hoofstroomskool ingeskryf het sodat hy ’n regverdige kans gegun kan word. As aktivis vir Downsindroom in Suid-Afrika is ek bewus van feitlike verslae waar Downsindroom-kinders uiters goed vaar in ’n hoofstroomskool,” het Nicolene gesê.

Die Arnoldi gesin het begin soek na ’n plaaslike skool wat Riaan ’n kans sou gee.

“Ek wou Riaan inskryf by die plaaslike skool in Nigel wat ek, my man en my oudste kind bygewoon het. Na menigte vergaderings met die hoof en skoolraad, saam met die Downsindroom-organisasie se verteenwoordigers van Pretoria, kon ons steeds nie reg kom nie,” het sy vertel.

“Ons was moedeloos, want spesiale skole is duur en baie ver uit die dorp uit. Ek het een oggend opgestaan en ’n kans gevat en Laer Volkskool gebel. Tot my verbasing was ons dadelik genooi vir ’n onderhoud.”

Na die gesin se ontmoeting met die hoof, die skool se terapeut en graad een juffrou het die skool ingestem en Riaan aanvaar, wat op 10 Februarie sy eerste Graad R dag met ’n oor-tot-oor-glimlag betree het.

“Ons was verheug en baie verlig om na twee jaar se sukkel en baklei uiteindelik ’n plaaslike skool te kon vind wat bereid was om Riaan in te neem,” het Nicolene gesê.

“Omdat Riaan in ’n kleuterskool was, verstaan hy waaroor skool gaan. Hy is ’n aanpasbare kind en geniet dit terdeë om saam met sy maats te speel. Sy au pair/assistent gaan saam met hom skool toe. Ons wil nie sy juffrou onder druk sit deur ’n kind met spesiale behoeftes net by die skool af te laai nie.”

Sy het vertel van Riaan wat absolute vreugde ervaar om weer deel van ’n skool te wees en elke dag breed glimlag as hy weet hy moet skool toe.

“Volkskool het het my omgeboul. Hulle het my kind raakgesien en was bereid om hom ’n kans te gee en nie weg te gooi omdat hy anders is nie. Volkskool gaan nie net ’n verskil in my kind se lewe maak nie, maar ook in ander kinders sin omdat hule in aanraking gaan kom met ’n Downsindroom-kind en sal leer om hom te aanvaar. Daarvoor is ons uit ons harte uit opreg dankbaar,” het Nicolene gesê.

Sy het vertel van die gedugte span terapeute wat saam met Downsindroom-kinders se ouers werk om ontwikkeling te bevorder. Nicolene en Riaan se assistent is opgelei om die Makaton Gebare Taal-program te gebruik wat spraaktekortkominge verbeter. Riaan se verbale vermoë het binne twee jaar van 10 persent na 70 persent verbeter met die program.

“Ons is steeds baie dankbaar teenoor die gemeenskap vir die voorreg wat ek gehad het om in 2014 die kursus in Amerika by te woon wat bygedra het tot sy goeie vordering. Teenoor Volkskool kan ons net sê baie dankie dat hulle Riaan aanvaar het as ’n gewone seuntjie wat met opgewondenheid ook sy laerskoolloopbaan kon begin,” het Nicolene gesê.

Nicolene is ’n aktivis vir Downsindroom-kinders en kan by 083 373 5684 gekontak word. ’n Facebook-blad is ook vir Riaan gestig: Riaan Arnoldi Fondsinsameling.

Riaan Arnoldi en sy boetie, Tiaan, is nou altwee by Volkskool.
Riaan Arnoldi en sy assistent/au pair Charmaine Thomas wat saam met hom skool toe gaan en hom bystaan met alles.
Riaan Arnoldi is opgewonde om saam met sy nuwe maats by Laer Volkskool te speel.
Die groot dag vir Riaan Arnoldi het op 10 Februarie aangebreek toe hy by Laer Volkskool met Graad R kon begin. Hier is Riaan saam met sy ouers, Nicolene en Carel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version