Local newsNews

Dansers tree aanlyn op

’n Groep van vier dansers van Rene’s Art of Dance in Nigel het gedurende Desember ’n manier gevind om, ten spyte van Covid-19, steeds internasionaal deel te neem.

Vier dansers van Rene’s Art of Dance het vanaf 4 tot 15 Desember aan ’n virtuele, internasionale danskompetisie deelgeneem.

Na verskeie onderhandelingssessies met die Verenigde State van Amerika, was daar uiteindelik ingestem om ’n aanlyn internasionale kampioenskap aan te bied.

Die geleentheid het vir dié dansers ’n internasionale vlak blootstelling aangebied. Die dansgroep het, net soos alle ander sportsoorte, dit moeilik gevind om aan te pas tydens die landswye inperking vanaf Maart.

Hulle het egter eie inisiatief geneem en aanlynklasse gehou oor die Zoom-platform.

Die vier dansers het deur sosiale media in September van die virtuele danskampioenskap gehoor en, met die toestemming van hul ouers, dadelik daarvoor begin voorberei.

Met die aankondiging van die kampioenskap het die dansers reeds geweet dat hulle deur ’n paneel internasionale beoordelaars lewendig op die internet beoordeel sou word.

Daar was ook bekende dansverkenners betrokke wat die moontlikheid van oorsese dansbeurse vir die dansers kon beteken.

Van die vier dansers het Abigail Gabrielli algeheel vierde plek in die Solo Latin-kategorie gehaal, terwyl Elizma Jansen van Nieuwenhuizen algeheel sewende in die Solo Energy-kategorie van die kampioenskap gehaal het.

Die organiseerders het aanlynskakels beskikbaar gestel vir die geleentheid sodat ouers, vriende en familielede ook op die manier die dansers se optredes kon toeskou.

Die vier dansers van Rene’s Art of Dance het in Desember internasionaal naam gemaak. Hulle is (van links): Abigail Gabriell, Abigail Bornmann, Elizma Jansen van Nieuwenhuizen en Alisha van der Walt

Related Articles

Back to top button