Local newsNews

GALLERY: Wêreld Kankerdag plaaslik ondersteun

Plaaslike besighede span saam om bewustheid vir kinderkanker te skep.

Nic Bottari Toyota en Salon Picasso Nigel het Donderdag saamgespan om fondse in te samel vir die Childhood Cancer Foundation SA (CHOC), asook om bewustheid te skep vir kinderkanker.

Werknemers van die twee besighede, saam met lede van die publiek, kon op die dag hul ondersteuning vir die doel wys deur hul gesigte te verf, hare te sny of spuitverf, of hul hare af te skeer.

“Dit is vir ons ’n voorreg om saam met Nic Bottari Toyota deel te wees van die wonderlike geleentheid om ’n verskil in iemand se lewe te kan maak,” het Hannelie Duckitt van Salon Picasso gesê.

Die haarkapsters van Salon Picasso en grimeerkunstenaars van Beauty @ Picasso deel jaarliks in die fondsinsamelingsgeleentheid vir kanker.

Dit is egter die eerste jaar wat die dames vir kinderkanker fondse insamel.

“Enige kanker is aaklig en ons almal word deur dit geraak,” het Nic Bottari gesê. “Dalk nie persoonlik nie, maar deur iemand naby aan mens wat deur dit moet gaan. Maar om ’n kind wat kanker het te sien, maak dit amper erger.

“Ek is al vir ’n paar jaar deel van ’n groep genaamd The Cows. Hulle samel geld in vir CHOC en het al miljoene rande vir die doel ingesamel, wat fantasties is.”

CHOC is ’n landswye, nie-winsgewende organisasie met die doel om diegene wat geraak word deur kinderkanker se stryd minder moeilik te maak.

Die organisasie bied beide ondersteuning en sorg vir kinderkanker deur middel van verskeie ondersteuningsprogramme.

“Die fondsinsameling is ’n baie klein bydrae van my en my span se kant af,” het Bottari bygevoeg. “Maar dit kan iemand se lewe verander.

“Ons teiken is R20 000 en hopelik kan ons die teiken bereik of selfs oorskry.”

Enige persoon wat nog ’n donasie wil maak, kan gerus Nic Bottari Toyota se Facebook-blad besoek vir toegang tot die aanlyn donasieskakel.

Lede van die publiek Melicia Potgieter (links) en Alsherie Smith het ook hul ondersteuning gewys deur hul hare gedeeltelik te laat skeer.
Thinus Erasmus (links) en Nelis Theron van NSB Motors in Nigel ondersteun die geleentheid deur hul hare af te skeer.
Angelo Daniels van Nic Bottari Toyota se kop word gespuitverf deur Franci van der Merwe van Beauty @ Picasso.
Nic Bottari (links) en Frikkie Botha het hul hare laat afskeer met die hulp van die haarkapsters van Salon Picasso.
Bekile Ndobe het haar gesig laat verf.
Annelie Taljaard het ook haar kant gebring.
Nic Bottari nadat sy hare af geskeer is.

Related Articles

Back to top button