NewsSchools

Leer ons mense ken

Janca Fouché is gekies as Hoër Volkskool se hoofdogter vir 2021. Heraut het gaan inloer om hierdie pragtige jong dame beter te leer ken.

Wat is die eerste gedagte wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?

Dit was vir my ‘n baie groot verrassing gewees. Ek het dit glad nie verwag nie.

Is dit ’n doelwit wat jy vir jouself gestel het?

Dit was nooit ‘n verwagting nie, maar dit is steeds ‘n wondelike voorreg.

Wat maak van ’n mens ’n goeie leier en hoe gaan jy jou leierskap toepas?

‘n Goeie leier is iemand wat altyd die regte voorbeeld stel, almal menswaardig en gelyk behandel en nie bang is vir uitdagings nie.

Ek leef altyd volgens die LURI-waardes (lojaliteit, uitnemendheid, respek, integriteit). My lewensleuse is om ander te behandel soos ek behandel wil word. Ek is ‘n bok vir sport en gryp elke geleentheid aan.

Daar wag ’n jaar vol verantwoordelikhede op jou. Waarna sien jy die meeste uit?

Dit is vir my ‘n groot opgewondenheid om die nuwe Graad Agt leerders te help om te ontwikkel tot ware groenbloed Volkies. Ek sien die jaar wat voorlê ook as ‘n geleentheid wat kan bydra tot my eie vorming as mens.

Watter uitdagings gaan jou ’n kopseer gee?

Dit gaan ‘n uitdaging wees om moeilike besluite te moet neem wat nie noodwedig gewild gaan wees nie, maar eerder reg.

Hoe sal jy graag onthou wil word wanneer jy aan die einde van die jaar wegstap?

Ek sal graag wil onthou word as iemand wat ander as ‘n mens raak gesien het en hulle na waarde ag.
Al maak ek net ‘n verskil in een Volkie se lewe sal dit vir my ‘n sukses wees maar ek hoop om die skool tot nuwe hoogtes te lei.

Wat maak die Hoër Volkskool spesiaal?

By Volkies is daar ‘n geleentheid vir elkeen om tot hul volle potensiaal te ontwikkel, of dit nou in die klas of op die sportveld of op die verhoog is.

Wie is jou rolmodel?

My ouers. Hulle stel altyd vir my ‘n goeie voorbeeld en leer vir my wat reg en verkeerd is. Hulle staan vas in wat hul glo en hanteer ander met respek.

Hulle het vir my ‘n goeie stel waardes geleer om volgens te leef. Ek is baie dankbaar vir hulle en kyk op na hulle albei.

Wat is jou gunsteling vak en hoekom?

Besigheidstudies. Wie kan dit nou nie geniet as jy ‘n juffrou soos Juffrou Nadine Krause het nie.
Sy maak dit lekker om te leer en haar passie vir die vak het beslis ‘n impak op my gehad. Sy bied die vak op ‘n opwindende manier aan.

Dit het vir my ‘n nuwe wêreld oop gesluit en ek beplan om in daardie rigting te gaan studeer.

Beskryf jouself in vyf woorde

Lojaal, avontuurlistig, betroubaar, passievol, hardwerkend.

Hoe het jy die Covid-19 pandemie jaar ervaar?

Soos vir almal was dit was vir my ook ‘n uitdaging, maar ek het ook besef ek is tot meer in staat as wat ek gedink het.
Tydens die grendeltydperk het ek net weer eens besef hoe kosbaar familie is en hoe belangrik interaksie met ander mense is.

Related Articles

 
Back to top button